Spring na inhoud

Jehovah se Getuies in die Oekraïne kan nou vreedsaam in gehuurde plekke bymekaarkom

24 MAART 2017
OEKRAÏNE

Hooggeregshof in Oekraïne bevestig die reg om vreedsaam te vergader

Hooggeregshof in Oekraïne bevestig die reg om vreedsaam te vergader

Op 8 September 2016 het die Konstitusionele Hof van die Oekraïne ’n uitspraak gelewer wat die reg bevestig om vreedsaam te vergader sonder dat regeringsamptenare inmeng. Die Hof het deel van die Oekraïne se Wet van 1991 oor Gewetensvryheid en Godsdiensorganisasies (Godsdienswet) ongeldig verklaar. Die wet vereis dat godsdiensorganisasies “toestemming” van die staat moet verkry as hulle godsdiensvergaderinge in gehuurde plekke wil hou. Die Konstitusionele Hof het beslis dat hierdie beperking ’n skending is van die land se grondwetlike waarborg op die reg om vreedsaam te vergader. Hierdie beslissing word deur Jehovah se Getuies in die Oekraïne verwelkom omdat hulle baie probleme ondervind wanneer hulle geboue wil huur om godsdiensvergaderinge te hou.

Regeringsamptenare weier om toestemming te gee vir godsdiensvergaderinge

Vandat die Godsdienswet toegepas is, het bevooroordeelde amptenare dit na willekeur gebruik om huurkontrakte wat deur die Getuies aangegaan is, te kanselleer. Een van hierdie gevalle was in 2012, toe duisende Getuies van Jehovah uitgesien het na ’n driedaagse godsdiensbyeenkoms in die stad Soemi, in die noordooste van die Oekraïne. Die huurkontrak vir die munisipale stadion was reeds geteken, en hulle was besig om reëlings vir die byeenkoms te maak. Die Getuies het die owerheid vooraf in kennis gestel van die byeenkoms soos deur die grondwet vereis word. Toe, net ’n maand voor die byeenkoms, het die stadsraad van Soemi op grond van die Godsdienswet besluit dat hierdie kennisgewing nie goed genoeg is nie. Volgens die raad moes die Getuies eers toestemming kry om die stadion te gebruik, maar die raad het geweier om dit te gee.

Die Getuies moes toe op kort kennisgewing reëlings tref om die byeenkoms in die stad Charkif te hou, omtrent 200 kilometer van Soemi af. Hierdie verandering het 3 500 Getuies gedwing om vinnig ander reëlings te maak. As gevolg van ouderdom of gesondheidsprobleme kon baie nie na Charkif reis om hierdie belangrike geleentheid by te woon nie. Ander kon dit nie bywoon nie omdat hulle nie by die werk kon af kry of omdat hulle nie die reis na Charkif kon bekostig nie. Die jaar daarna het die stadsraad van Soemi weer die Godsdienswet gebruik en geweier dat die Getuies ’n byeenkoms in die stadion hou.

Illia Kobel, van die nasionale kantoor van Jehovah se Getuies in Lviv, het verduidelik: “Die kansellering van die byeenkomste in Soemi was nie ’n uitsondering nie. Daar was ook ’n hele paar ander gevalle waar dit vir ons moeilik was om geboue te huur vir ons godsdiensvergaderinge.” Byvoorbeeld, in Maart 2012 het amptenare in die stad Winnitsia geweier om die Getuies toe te laat om ’n godsdiensvergadering in ’n gehuurde saal te hou. Dit het hulle gedwing om op die nippertjie ander reëlings te maak. ’n Paar maande later wou amptenare nie toestemming gee dat die gemeente in Mohilif-Podilskji hulle weeklikse godsdiensvergaderinge in ’n gehuurde gebou hou nie, al het hulle al drie jaar lank vergaderinge daar gehou. Dié in die gemeente moes toe in ongemaklike toestande in huise bymekaarkom omdat hulle nie ’n gepaste gebou kon kry vir hulle vergaderinge nie

So onlangs as Februarie 2015 het die staatsadministrasie van die Winnitsia-streek volgehou dat Jehovah se Getuies die wet herhaaldelik oortree het. Die administrasie het besluit dat die Getuies die wet oortree het omdat hulle nie toestemming gekry het om godsdiensvergaderinge te hou in plekke wat nie aan hulle behoort nie. Hulle was nie daarmee tevrede om net in kennis gestel te word nie.

Getuies probeer probleem met teenstrydige wette oplos

In onlangse jare kon Jehovah se Getuies oor die algemeen vreedsaam in hulle plekke van aanbidding vergader sonder dat die regering inmeng. Maar dit is dikwels nodig om ’n groter gebou te huur vir spesiale vergaderinge of streekbyeenkomste. Die grondwet van die Oekraïne laat toe dat ’n godsdiensorganisasie vreedsaam vergader in ’n gehuurde plek. Die enigste vereiste is dat regeringsamptenare vooraf daarvan in kennis gestel moet word. Mnr. Kobel het gesê: “Die oorsaak van die probleme wat ons ondervind het, het te doen met die beperkende Godsdienswet. Dit is teenstrydig met die grondwet, wat nie vereis dat toestemming van die owerhede verkry word nie. In ’n poging om die probleem op te los, het ons ’n saak ingedien by die Kommissaris vir Menseregte by die Oekraïense Parlement, ook bekend as die Ombudsman.”

Die Ombudsman se werk is om seker te maak dat alle Oekraïense burgers die regte geniet wat deur die land se grondwet en ander wette gewaarborg word. Nadat die Ombudsman die saak van Jehovah se Getuies ondersoek het, het hy saamgestem dat die Godsdienswet nie met die grondwet ooreenstem nie. Die grondwet waarborg die reg om te vergader as regeringsamptenare vooraf in kennis gestel word dat ’n openbare godsdiensvergadering in ’n gehuurde plek gehou gaan word. Maar die Godsdienswet verbied openbare godsdiensvergaderinge in ’n gehuurde plek tensy die godsdiensgroep ten minste tien dae voor die geleentheid eers toestemming van regeringsamptenare verkry.

Op 26 Oktober 2015 het die kantoor van die Ombudsman ’n aansoek by die Konstitusionele Hof van die Oekraïne ingedien wat gesê het dat die deel van die Godsdienswet wat bevraagteken word, ongrondwetlik is. Die aansoek het ook gesê dat die reg om vreedsaam te vergader, ’n basiese vryheid is waarop alle burgers geregtig is. Dit het verder gesê: “Regerings moenie reëls en wette maak wat moontlik kan inmeng met die reg om vreedsaam te vergader nie.” Om die Ombudsman se aansoek te ondersteun, het Jehovah se Getuies ’n verklaring by die Konstitusionele Hof ingedien wat die probleme uiteensit wat hulle ondervind wanneer hulle geboue vir godsdiensvergaderinge wil huur.

Konstitusionele Hof verklaar teenstrydige wet ongeldig

Op 8 September 2016 het die Konstitusionele Hof beslis dat geen wet in stryd kan wees met die grondwetlike reg om vreedsaam te vergader nadat regeringsamptenare in kennis gestel is nie. Dit het ook Artikel 9 van die Europese Konvensie oor Menseregte in ag geneem wat die reg op godsdiensvryheid waarborg, en Artikel 11 wat die reg waarborg om vreedsaam te vergader sonder onregverdige inmenging van die regering. Die Hof het verklaar dat deel 5 van Artikel 21 van die Godsdienswet van 1991 ongrondwetlik is. Hierdie wet vereis dat ’n godsdiensgroep eers toestemming van regeringsamptenare moet kry voordat hulle ’n openbare godsdiensvergadering in ’n gehuurde plek kan hou.

’n Gunstige oplossing

Om ’n godsdiensvergadering in ’n gehuurde plek te hou, hang nou nie meer af van die toestemming van regeringsamptenare nie. Volgens die grondwet mag toestemming nie geweier word wanneer die Getuies amptenare vooraf in kennis stel dat hulle beplan om ’n gebou te huur vir ’n godsdiensvergadering nie.

Mnr. Kobel het namens die 140 000 Getuies van Jehovah in die Oekraïne gesê: “Hierdie onlangse beslissing deur die Konstitusionele Hof het die reg om vreedsaam te vergader, bevestig. Ons waardeer die feit dat amptenare nie meer kan inmeng wanneer ons geboue wil huur om godsdiensvergaderinge te hou nie.”