Spring na inhoud

1 JULIE 2019
OEKRAÏNE

Jehovah se Getuies in Oekraïne hou ’n Bybeluitstalling

Jehovah se Getuies in Oekraïne hou ’n Bybeluitstalling

Jehovah se Getuies in Oekraïne het ’n spesiale Bybeluitstalling gehou om die vrystelling van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Russiese Gebaretaal (RSL) bekend te stel. Dit is ’n belangrike prestasie in die vertaalwerk van Jehovah se Getuies. Die uitstalling het op 7 Oktober 2018 in Lviv begin en het tot 7 Junie 2019 aangehou. Ander stede waar die uitstalling ook gehou is, sluit Charkif, Kjif, Odesa en Dnjepr in.

Voordat die uitstalling in elke plek gehou is, het plaaslike gebaretaal-gemeentes gedrukte en video-uitnodigings uitgegee aan mense wat doof is of wat nie goed kan hoor nie. Die Openbare Inligtingsafdeling by die takkantoor in die Oekraïne het ook uitnodigings aan onderwysers, die media en die regering gegee.

Die eerste uitstalling is gehou by ’n klub vir dowes in Lviv waar mense die verskillende elektroniese hulpmiddele kon sien wat vir die dowes beskikbaar is om die Bybel te studeer, soos die app JW Library Sign Language®. Besoekers kon ook ’n uitstalling sien van hoe die Bybel gelyk het deur die geskiedenis. Hierdie uitstalling het boekrolle en moderne boeke ingesluit. Byvoorbeeld, die besoekers kon ’n oorspronklike Bybel van 1927 sien.

Ons is bly dat die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte nou in Russiese Gebaretaal beskikbaar is. Ons weet dat dit mense wat Russiese Gebaretaal gebruik, sal help om akkurate kennis van die Bybel te kry. – Matteus 5:3.