Spring na inhoud

13 DESEMBER 2016
OEKRAÏNE

Koninkryksale van Jehovah se Getuies in die Donetsk-streek en Loehansk-streek van die Oekraïne wat met geweld oorgeneem is

Koninkryksale van Jehovah se Getuies in die Donetsk-streek en Loehansk-streek van die Oekraïne wat met geweld oorgeneem is

Donetsk-streek

HORLIFKA—Koninkryksaal deur gewapende mans oorgeneem.

  • Aan die einde van Junie 2014 het gewapende mans by die Koninkryksaal by Wiliamsa Akademikastraat 3A ingebreek, elektroniese toerusting gesteel en nuwe slotte ingesit. Hulle het die saal toe as hulle blyplek gebruik.

  • Die gebou is op 13 April 2015 aan Jehovah se Getuies teruggegee.

Die dorp Horlifka, Akademika Koroliowastraat 75

HORLIFKA—Koninkryksaal deur gewapende mans oorgeneem.

  • Op 5 Julie 2014 het gewapende mans die Koninkryksaal oorgeneem. Hulle het dit as hulle blyplek en ’n stoorplek vir ammunisie gebruik, maar hulle het die gebou in September 2014 verlaat. Die Getuies het teruggekeer en die Koninkryksaal weer vir hulle godsdiensvergaderinge begin gebruik.

  • Op 12 Oktober 2014 het gewapende mans ’n godsdiensvergadering by die Koninkryksaal onderbreek en almal wat daar was beveel om met hulle godsdiensbedrywighede op te hou. Hulle het gesê dat die Ortodokse godsdiens die enigste godsdiens is wat in die streek toegelaat word en dat hulle binnekort “van alle Jehovah se Getuies ontslae sou raak”. Die mans het die Koninkryksaal toe as hulle blyplek begin gebruik.

Die stad Donetsk, Karamzinastraat 10

DONETSK—Koninkryksaal deur gewapende mans oorgeneem.

  • Op 13 Augustus 2014 het gewapende mans by die Koninkryksaal ingebreek en dit as hulle blyplek begin gebruik.

  • Op 19 Augustus 2014 het die mans die klanktoerusting gesteel en die gebou verlaat. Die Getuies het teruggekeer en die Koninkryksaal weer vir hulle godsdiensvergaderinge begin gebruik.

  • Op 18 Oktober 2014 ná ’n godsdiensvergadering het verteenwoordigers van die Vierde Oplot-bataljon die Koninkryksaal binnegekom en vir die Getuies wat daar was gesê dat hulle die saal oorneem.

  • Op 18 November 2014 het gewapende mans daarop aangedring dat die Getuies dokumente onderteken om eienaarskap van die Koninkryksaal oor te dra aan die Kantoor van die Kommandant van die Petrofskji- en Kirofskji-streek. Die mans gebruik die gebou as hulle blyplek.

Die dorp Horlifka, Hertsenastraat 4

HORLIFKA—Koninkryksaal deur burgerlikes oorgeneem.

  • Op 30 September 2014 het ’n plaaslike TV-stasie ’n onderhoud gevoer met die “nuwe eienaar” van hierdie Koninkryksaal. Hy het gesê dat dit by Jehovah se Getuies afgevat is sodat dit as ’n boksskool gebruik kan word. Sedert 2013 was die Koninkryksaal herhaaldelik verniel en is daar probeer om dit aan die brand te steek. Die laaste keer dat iemand probeer het om die saal aan die brand te steek, was op 5 Junie 2014.

DONETSK—Koninkryksaal deur gewapende mans oorgeneem.

  • Op 26 Oktober 2014 het gewapende mans van die Sjachtar-bataljon van Donetsk se Volksrepubliek (DPR) by die Koninkryksaal ingebreek. Hulle gebruik dit as hulle blyplek.

Die dorp Zjdanifka, Komsomolskastraat 14

ZJDANIFKA—Koninkryksaal deur gewapende mans oorgeneem.

  • Op 27 Oktober 2014 het ’n gewapende groep mans van Horlifka op bevel van ’n kommandant beslag gelê op die Koninkryksaal. Die onderkommandant van Horlifka het gesê dat die Ortodokse godsdiens die enigste godsdiens is wat in die streek toegelaat word en dat alle ander godsdienste verbode is.

  • Op 21 November 2014 het die afdelingskommandant van ’n ander gewapende groep vir Jehovah se Getuies gesê dat sy manne beheer oor die Koninkryksaal sou oorneem.

  • Op 20 November 2015 het die gewapende mans die gebou verlaat en kon Jehovah se Getuies weer beheer oor die gebou kry.

Die dorpie Telmanowe, Perwomaiskastraat 112

TELMANOWE—Koninkryksaal deur gewapende mans oorgeneem.

  • Op 4 November 2014 het gewapende mans by die gebou ingebreek en gewapende wagte laat oppas.

  • Op 11 Desember 2014 het die mans ammunisie in die gebou ingebring, en hulle gebruik dit as hulle blyplek.

Die dorp Makiifka, Petsjerskastraat 17

MAKIIFKA—Koninkryksaal deur gewapende mans oorgeneem, maar later verlaat.

  • Op 5 November 2014 het gewapende mans van die Rus-bataljon by die Koninkryksaal ingebreek. Hulle het die Getuies beveel om die saal se sleutels vir hulle te gee en om nooit weer terug te kom nie. Die volgende dag het die onderkommandant die Koninkryksaal se naambord verwyder en dit met die bataljon se vlag vervang.

  • Op 26 November 2014 het die bataljon die gebou verlaat.

HORLIFKA—Koninkryksaal deur gewapende mans oorgeneem, later verlaat en toe weer oorgeneem.

  • Op 29 November 2014 het gewapende mans in die Koninkryksaal by Witsjiznianastraat 105-A ingekom en vir die Getuies wat daar was, gesê dat hulle die saal oorneem. Een van die mans het gesê dat die DPR-regering slegs die Ortodokse godsdiens in die streek sou toelaat. Die mans het gewapende wagte beveel om die gebou op te pas en die Getuies verbied om terug te keer. Die volgende dag het die mans die gebou verlaat.

  • Op 22 Julie 2016 het gewapende mans weer die gebou binnegekom en almal wat daar was beveel om die gebou dadelik te verlaat. Hulle het die gebou geplunder.

Die dorp Zoehres, Tsjerniachofskohostraat 1

ZOEHRES—Koninkryksaal deur gewapende mans oorgeneem.

  • Op 20 Desember 2014 het die dorp se kommandant aangekondig dat hy die gebou gaan oorneem. Hy het Jehovah se Getuies beveel om die sleutels van die saal vir hom te gee en om nooit weer terug te kom nie.

  • Op 19 April 2015 is die gebou aan die Getuies teruggegee.

DONETSK—Koninkryksaal deur gewapende mans oorgeneem.

  • Op 1 Februarie 2015 het gewapende mans in die Koninkryksaal ingekom. Hulle het die Getuies beveel om die sleutels van die Koninkryksaal vir hulle te gee en om dokumente te onderteken wat die eienaarskap van die Koninkryksaal aan die rebellemagte oordra solank as wat die oorlog aanhou.

  • Op 29 Februarie 2016 is die gebou aan die Getuies teruggegee, maar dit moes eers herstel word voordat dit weer vir godsdiensvergaderinge gebruik kon word.

JENAKIEWE—Koninkryksaal deur gewapende mans oorgeneem.

  • Op 3 Maart 2015 het gewapende mans beveel dat Jehovah se Getuies die sleutels van die Koninkryksaal vir hulle moet gee sodat hulle dit as ’n blyplek kan gebruik.

HORLIFKA—Koninkryksaal deur gewapende mans oorgeneem.

  • Op 25 Julie 2016 het gewapende mans die Koninkryksaal by Simferopolskastraat 9 binnegekom en aangekondig dat daar net drie godsdienste is wat in die streek toegelaat word en dat hulle van plan is om “Jehovah se Getuies uit te roei”.

Loehansk-streek

Die dorp Antratsit, Komoenarskastraat 4

ANTRATSIT—Koninkryksaal deur burgerlikes oorgeneem.

  • In September 2014 het onbekende persone twee keer by die Koninkryksaal ingebreek. Hulle het elektroniese toerusting gesteel en op die muur geskryf: “Ortodokse Kosakke!”

  • Op 25 September 2014 het ’n plaaslike TV-kanaal berig dat die Koninkryksale van Jehovah se Getuies oorgeneem word sodat dit vir ander doeleindes, soos kleuterskole, gebruik kan word.

  • In Mei 2015 is die gebou aan Jehovah se Getuies teruggegee.

Die dorp Rowenki, Dzerzjinskohostraat 84-A

ROWENKI—Koninkryksaal deur gewapende mans oorgeneem.

  • Op 23 September 2014 het gewapende mans van die Sint George-bataljon by die Koninkryksaal ingebreek en die Getuies verbied om terug te keer. Die gewapende mans het dit as hulle blyplek gebruik.

  • In Augustus 2015 is die gebou aan Jehovah se Getuies teruggegee.

PEREWALSK—Koninkryksaal deur gewapende mans oorgeneem.

  • Op 5 November 2014 het gewapende mans onder leiding van die Onderhoof van die Militêre Kommandant se Kantoor in die gebou ingekom en vir die Getuies wat daar was, gesê dat hulle dit oorneem om dit as ’n eetsaal te gebruik. Die onderhoof het gesê: “Daar is geen hoop vir Jehovah se Getuies nie.” Hy het toe vir die Getuies gesê dat hulle nie meer aan hulle godsdiensbedrywighede sal kan deelneem nie.

Die dorp Krasni Loetsj, Radianskastraat 37

KRASNI LOETSJ—Koninkryksaal deur gewapende mans oorgeneem.

  • Op 5 Desember 2014 het gewapende mans by die Koninkryksaal ingebreek. Die gebou is deur gewapende mans opgepas, en militêre voertuie is op die werf geparkeer.

BRIANKA—Koninkryksaal deur gewapende mans oorgeneem.

  • Op 26 Maart 2015 het gewapende mans by hierdie Koninkryksaal ingebreek. Hulle het al die meubels in die gebou gevat en die Koninkryksaal se naambord vervang met ’n teken wat sê: “Die Almagtige Don Host.”