Spring na inhoud

28 AUGUSTUS 2015
OEKRAÏNE

Hooggeregshof van Oekraïne handhaaf reg op gewetensbeswaar gedurende militêre mobilisasie

Hooggeregshof van Oekraïne handhaaf reg op gewetensbeswaar gedurende militêre mobilisasie

Oekraïne se hooggeregshof het bevestig dat gewetensbeswaardes die reg op alternatiewe diens het selfs ten tye van burgerlike onrus en oorlog. Dit is ’n baie betekenisvolle beslissing op die gebied van menseregte, in Oekraïne sowel as ander lande.

Witali Sjalaiko, een van Jehovah se Getuies, is beskuldig van dienspligontduiking tydens mobilisasie omdat hy gevra het om alternatiewe diens te doen toe hy opgeroep is. Die verhoorhof sowel as die appèlhof het hom onskuldig bevind, maar die aanklaer het appèl aangeteken by Oekraïne se Gespesialiseerde Hooggeregshof vir Burgerlike en Strafsake. Op 23 Junie 2015 het die hooggeregshof die appèl verwerp en sodoende die laer howe se beslissings bevestig.

Die hooggeregshof het bevestig dat “die verhoorhof tereg verwys het na die ooreenkomstige voorskrifte van die Europese Konvensie oor Menseregte en die beslissings van die Europese Hof van Menseregte”. Die hooggeregshof het ook met die verhoorhof saamgestem dat die saak Bayatyan teen Armenië van toepassing is. Hierdie saak is op 7 Julie 2011 deur die Groot Kamer van die Europese Hof van Menseregte beslis. Hierdie deurslaggewende beslissing het bevestig dat gewetensbeswaar teen militêre diens op grond van opregte godsdiensoortuigings deur Artikel 9 van die Europese Konvensie oor Menseregte beskerm word. In die saak van Witali Sjalaiko het Oekraïne se hooggeregshof dit duidelik gemaak dat die regte van gewetensbeswaardes beskerm moet word, selfs wanneer ’n land vir gewapende konflik voorberei en nie net tydens gewone oproepe vir diensplig nie. Die hooggeregshof se beslissing is finaal, sonder die opsie om weer appèl aan te teken.

Hierdie finale beslissing is ’n groot verligting vir mnr. Sjalaiko. Hy sê: “Ek verstaan dat my land sy burgers deur militêre mobilisasie wil beskerm. Hoewel my gewete my nie toelaat om diensplig te verrig nie, is ek bereid om deur middel van alternatiewe burgerlike diens my deel te doen. Ek is dankbaar dat die howe erken het dat ek diensplig weier weens my opregte godsdiensoortuigings.”

’n Beslissing wat baie mense tot voordeel strek

Duisende Getuies van Jehovah regoor Oekraïne het al gedurende mobilisasie voor die neutraliteitsgeskil te staan gekom. Diegene wat strafregtelik vervolg word op aanklag van dienspligontduiking kan nou staatmaak op die regspresedent wat in Witali Sjalaiko se saak vasgestel is.

Mnr. Sjalaiko se regsverteenwoordiger, mnr. Wadim Karpof, het gesê: “Eenvoudig gestel, die hooggeregshof het verduidelik dat mnr. Sjalaiko as een van Jehovah se Getuies nie geregtelik vervolg kan word omdat hy diensplig weier nie. Dit is noemenswaardig dat internasionale wetgewing oor godsdiensvryheid en gewetensvryheid toegepas is, selfs in ’n land soos Oekraïne, wat deur oorlog en onstabiliteit verdeel word.

Oekraïne stel ’n voorbeeld wat respek vir menseregte betref

Die howe van Oekraïne het erken dat gewetensbeswaar teen diensplig ’n fundamentele mensereg is wat selfs gedurende militêre mobilisasie beskerm moet word. Dit is nie ’n selfsugtige ontduiking van ’n mens se pligte of ’n bedreiging vir nasionale belange en veiligheid nie. Deur die beslissings van die laer howe te bevestig, het die hooggeregshof menseregte vir alle Oekraïense mense gehandhaaf. Oekraïne het ’n voorbeeld gestel vir lande wat gewetensbeswaardes straf wat weens hulle opregte oortuigings diensplig weier.