Spring na inhoud

Broer Mikola Bozjedomof het gesterf toe ’n treinstasie in Kramatorsk, in die Donetsk-streek van Oekraïne, met bomme aangeval was

4 MEI 2022
OEKRAÏNE

’n Daad wat deur liefde gemotiveer is

“Dit was veronderstel om sy laaste reis te wees.”

’n Daad wat deur liefde gemotiveer is

Toe die bakleiery in die Donetsk-streek van Oekraïne erger geword het, het broer Mikola Bozjedomof ’n paar keer na Kramatorsk teruggereis om soveel mense as moontlik te help om van die oorlog te vlug.

Mikola en Nina Bozjedomof

Maar op 8 April 2022 het Mikola gesterf toe ’n treinstasie in Kramatorsk, Donetsk-streek, met bomme aangeval was.

Behalwe vir die 58-jarige Mikola is daar ook een suster onder die meer as 50 mense wat gesterf het. Daar is ook ’n broer onder die meer as 100 mense wat beseer is. Ander Getuies wat die aanval oorleef het, het gesê dat daar twee harde ontploffings was en toe het stukke metaal deur die lug gevlieg.

Nina, wat 32 jaar met Mikola getroud was, sê: “My man het altyd die belange van ander eerste gestel. Hy het veral ’n sterk begeerte gehad om die verkondigers wat bejaard en verswak is, te help. Maar elke keer wanneer hy teruggereis het na Kramatorsk toe, het dit nog gevaarliker geword. Dit was veronderstel om sy laaste reis te wees.”

Albei is saam in 1997 gedoop. Mikola het jare lank as ’n getroue ouerman gedien. Die broers en susters is besig om bymekaar te kom om Nina baie liefde en ondersteuning te gee. Sy sê: “Hulle woorde van vertroosting help my om deur hierdie moeilike tyd te kom.”

Nina verduidelik ook dat sy vertroos is deur die Bybel, veral Jesaja 40:28-31. Nina sê: “Jehovah help my om my krag terug te kry. Ek ervaar Jehovah se liefde soos nooit tevore nie. Voorheen het ek net van sulke liefde in ons publikasies gelees, maar nou het ek dit self gevoel.”

Ons bid vir Nina en vir almal wat geliefdes in die oorlog verloor het. Ons weet dat Jehovah sal aanhou om hulle te ondersteun. – Psalm 20:2.