Spring na inhoud

Ses swembaddens word gebruik om 7 402 mense te doop by die “Goddelike Onderrigting”-internasionale streekbyeenkoms in 1993 in Kijif, Oekraïne

25 OKTOBER 2023
OEKRAÏNE

’n Geskiedkundige doop in Oekraïne 30 jaar gelede

’n Geskiedkundige doop in Oekraïne 30 jaar gelede

Op 7 Augustus 1993 in Kijif, Oekraïne, was 7 402 broers en susters by die “Goddelike Onderrigting”-internasionale streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies gedoop. Dit is nog steeds die geleentheid waar die meeste mense gedoop is in die moderne geskiedenis van Jehovah se volk. Dié wat gedoop is, onthou nog steeds daardie spesiale geleentheid.

Onder dié wat gedoop is, was Wolodimir en sy vrou, Alla. Dit was die eerste streekbyeenkoms wat hulle al ooit bygewoon het. Wanneer hulle terugdink aan die byna 65 000 mense uit 16 lande wat die streekbyeenkoms bygewoon het, sê hulle: “Daardie streekbyeenkoms in Kijif het vir ons gewys dat ons wêreldwye broederskap ’n werklikheid is en nie net iets is waaroor ons in die publikasies lees nie. Ná al die streekbyeenkomste wat ons oor die jare bygewoon het, het ons baie meer broers en susters ontmoet en het ons by hulle geleer dat wanneer ons Jehovah eerste in ons lewe stel, ons werklik gelukkig sal wees.”

Links: Wolodimir en sy vrou, Alla, by die internasionale streekbyeenkoms in 1993. Regs: Wolodimir en Alla vandag

Oleksandr, ’n broer van Kijif, was een van die meer as 50 broers en susters van sy gemeente wat by daardie streekbyeenkoms gedoop is. Hy het die volgende oor die atmosfeer daar gesê: “Dit het my hart geraak toe ek die liefde en eenheid onder die broers sien. Dit het my oortuig dat ek aan ’n liefdevolle geestelike familie behoort. Ek kry vandag nog steeds daardie gevoel wanneer ek streekbyeenkomste bywoon.”

Links: Oleksandr by die internasionale streekbyeenkoms in 1993 in Kijif, Oekraïne. Regs: Oleksandr en sy vrou, Larisa, vandag

Wanneer ’n suster met die naam Lioedmila terugdink aan die dag wat sy gedoop is en die hele streekbyeenkoms, sê sy: “Die ‘Goddelike Onderrigting’-program het my gehelp om op my geestelike doelwitte te fokus. Ek het dit my doelwit gemaak om Jehovah voltyds te dien. Ek het hierdie doelwit bereik, en nou is ek al omtrent 28 jaar lank in die voltydse diens. Jehovah het my nog altyd oor die jare ondersteun.”

Links: Lioedmila by die “Goddelike Onderrigting”-internasionale streekbyeenkoms in 1993. Regs: Lioedmila vandag

Die “Goddelike Onderrigting”-internasionale streekbyeenkoms in 1993 in Kijif was werklik ’n onvergeetlike gebeurtenis. Van daardie tyd af het die aantal verkondigers in Oekraïne byna drie keer meer geword. Jehovah hou vandag nog aan om dié in Oekraïne te seën wat moedig kies om hom te dien, ’n persoonlike toewyding maak en gedoop word. – Eksodus 32:26.