Spring na inhoud

Koninkryksaal in die dorp Brianka, Loehansk-streek, wat op 26 Maart 2015 met geweld oorgeneem is

13 DESEMBER 2016
OEKRAÏNE

Daar word steeds by aanbidding ingemeng in die oostelike streke van die Oekraïne

Daar word steeds by aanbidding ingemeng in die oostelike streke van die Oekraïne

Mense in die oostelike streke van die Oekraïne ondervind elke dag situasies wat hulle lewe ontwrig en wat ’n gevoel van vrees en onsekerheid veroorsaak. Die konflik in die streek maak Jehovah se Getuies ook baie bekommerd. Dis nie so seer die onveiligheid nie, maar eerder die godsdiensdiskriminasie wat hulle ontstel. Gewapende mans het party van die Getuies se Koninkryksale (plekke van aanbidding) met geweld oorgeneem. Hulle het vir die Getuies gesê dat die Ortodokse godsdiens die enigste goedgekeurde godsdiens is en dat hulle van plan is om “Jehovah se Getuies uit te roei” uit die oostelike streke van die Oekraïne.

Koninkryksale met geweld oorgeneem

Tussen Junie 2014 en November 2016 het groepe gewapende mans 18 Koninkryksale met geweld oorgeneem. Party sale word as blyplek vir hierdie mans gebruik en ander word op ander maniere gebruik. Die meeste van hierdie gevalle het in 2014 gebeur toe die konflik begin toeneem het, maar Koninkryksale is ook onlangs met geweld oorgeneem.

Koninkryksaal by Simferopolskastraat 9, Horlifka, is geplunder

Op die oggend van 22 Julie 2016, terwyl ’n groep Getuies in Horlifka bymekaar was vir aanbidding in die Koninkryksaal by Witsjiznianastraat 105-A, het ’n groep gewapende mans ingekom en almal beveel om die gebou dadelik te verlaat. Die mans het die gebou geplunder en al die meubels en toerusting gevat. Hierdie selfde gebou was ook op 29 November 2014 met geweld oorgeneem, maar ’n rukkie later het die mans dit verlaat. Die Getuies het hulle plek van aanbidding toe weer vir godsdiensvergaderinge begin gebruik totdat dit op 22 Julie weer met geweld oorgeneem is.

Drie dae later het gewapende mans ’n ander Koninkryksaal in Horlifka, by Simferopolskastraat 9, binnegegaan. Die mans het alles, insluitende die verwarmers, uit die gebou gevat, en selfs die heining verwyder. Die gemeentes wat voorheen in hierdie gebou bymekaargekom het, moes ander reëlings maak vir hulle godsdiensvergaderinge.

Hulle hou aan om vir aanbidding bymekaar te kom

Party gemeentes wat uit hulle Koninkryksaal gedwing is, kom in klein groepies bymekaar om nie onnodige aandag van die gewapende groepe te trek nie. Ander Getuies woon godsdiensvergaderinge in Koninkryksale buite die konflikgebied by, al is dit moeilik en duur. Diegene wat te oud of siek is om te gaan, luister oor die telefoon na die vergaderinge.

Die vyandigheid in die gebied en ander probleme maak dit selfs moeiliker vir die Getuies om bymekaar te kom. Illia Kobel, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies in die Oekraïne, het gesê: “Net soos hulle bure, is Getuies wat naby die konflikgebied woon, emosioneel uitgeput omdat daar kort-kort geskiet word en ontploffings is. Hulle het ook ekonomiese probleme as gevolg van stygende pryse en lae inkomste. Ten spyte van hierdie probleme, hou Getuies aan om saam met medegelowiges vir aanbidding bymekaar te kom.

Die Getuies begin party Koninkryksale weer gebruik

Jehovah se Getuies is baie bly dat hulle ses van die geboue wat oorgeneem was, weer kan gebruik as plekke van aanbidding. Hoewel die geboue beskadig is, het plaaslike Getuies die nodige herstelwerk gedoen sodat godsdiensvergaderinge weer daar gehou kan word. ’n Sewende gebou is so erg beskadig dat dit nog steeds nie gebruik kan word nie.

’n Gemeente in die Loehansk-streek wat in September 2014 gedwing was om hulle Koninkryksaal te verlaat, kon die gebou omtrent ’n jaar later weer vir aanbidding begin gebruik. ’n Ouer man in hierdie gemeente, Anatoli Danko, het gesê: “Dit is tye soos hierdie wat ons laat besef dat ons gemeente ons familie is. Ons kon vir ’n lang tyd nie bymekaar kom nie, maar nou is ons almal weer by ons huis.”

Hulle kies nie kant nie

Jehovah se Getuies is wêreldwyd bekend vir hulle politieke neutraliteit—wanneer daar konflik is kies hulle nie kant nie. Dit is ook hoe Getuies wat in die oostelike streke van die Oekraïne woon, optree. Hulle sien uit na ’n tyd wanneer hulle in vrede saam met hulle families en bure kan lewe en hulle godsdiens kan beoefen sonder enige inmenging.