Spring na inhoud

6 JULIE 2015
OEKRAÏNE

Jehovah se Getuies saai spesiale vergadering na oorlogsone in Oekraïne uit

Jehovah se Getuies saai spesiale vergadering na oorlogsone in Oekraïne uit

LVIV, Oekraïne—Jehovah se Getuies in Oekraïne het op 14 Februarie 2015 ’n spesiale vergadering gehou om geestelike ondersteuning te gee aan meer as 17 000 medeaanbidders wat in die oorloggeteisterde gebied in Oos-Oekraïne woon. Die twee uur lange program is vanaf die takkantoor van Jehovah se Getuies in Lviv regstreeks uitgesaai na Oos-Oekraïne en ander plekke regoor die land. Die vergadering kon nie op ’n beter tyd gewees het nie, aangesien ’n dodelike bomaanval op die hawestad Marioepol op 24 Januarie 2015 drie Getuies se huise en 58 van hulle woonstelle beskadig. ’n Getuie is ernstig beseer in die aanval, en nog een, wat net 16 jaar oud was, het gesterf.

Gemeentelede kom by ’n Koninkryksaal in Makijifka—in die oorlogsone—bymekaar om die program te geniet wat vanaf die Oekraïense takkantoor uitgesaai is.

In samewerking met die takkantoor in Rusland het die takkantoor in Oekraïne gereël dat ’n video van die hele program opgeneem en uitgesaai word na Getuies in Belarus en Rusland. Gevolglik het nog 186 258 in Belarus en Rusland die program gesien, tesame met die 150 841 Oekraïense Getuies. Altesaam 337 099 het dus na die program gekyk.

Goestaf Berki, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Oekraïne, verduidelik: “Die verslae oor ons noodlenigingspogings in Oekraïne was ’n groot vertroosting vir diegene in die oorlogsone. Dit was ook baie gerusstellend om uit te vind hoe die noodlenigingskomitee in Rostof-on-Don, Rusland, vir ons vriende wat vlugtelinge is, sorg.”

’n Woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Rusland, Jaroslaf Siwoelskii, sê: “Jehovah se Getuies is regoor die wêreld bekend as vreedsame mense wat in politieke aangeleenthede neutraal bly. Hierdie vergadering het besprekings ingesluit om te toon hoe ons neutrale standpunt op die Bybel gebaseer is. Dit het beklemtoon waarom ons, hetsy ons Russies, Oekraïens of enige ander nasionaliteit is, nie in militêre konflikte kant kies nie.”

Twee van Jehovah se Getuies in Horlifka, in die Donetsk-streek, wie se huis deur ’n vuurpyl getref is terwyl hulle in die huis was.

Tot nou toe het die Oekraïense takkantoor 14 noodlenigingskomitees saamgestel om na die slagoffers van die oorlog om te sien. Hierdie komitees het meer as 149 ton kos en 21 ton klere aan medegelowiges en nie-Getuies in die gebied voorsien. Die komitees het verblyf gereël vir meer as 7 600 vlugtelinge en kon al ’n aantal beskadigde of vernietigde huise en Koninkryksale (plekke van aanbidding) herstel of herbou. In die stad Marioepol het ’n noodlenigingskomitee byvoorbeeld slegs twee dae ná die aanval gereël dat 160 vrywilligers begin met herstelwerk aan 34 beskadigde woonstelle.

’n Parkeerterrein langs ’n Koninkryksaal (nie in die foto nie) in Marioepol wat deur vuurpyle getref is.

Mnr. Berki het verder vertel hoe die noodlenigingswerk onder leiding van die takkantoor in Oekraïne in meer voorsien as net onmiddellike fisiese en materiële behoeftes. Hy sê: “Benewens hierdie spesiale vergadering gaan reisende bedienaars voort om die 136 gemeentes van Jehovah se Getuies in die oorlogsgebied te besoek. En soos dit in alle gemeentes van Jehovah se Getuies regoor die wêreld die geval is, span plaaslike ouer manne hulle in om vertroosting en geestelike aanmoediging te voorsien aan diegene onder hulle sorg.”

Mediakontakt(e):

Internasionaal: J.R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Belarus: Pawel Jadloeski, tel. +375 17 292 93 78

Rusland: Jaroslaf Siwoelskii, tel. +7 812 702 2691

Oekraïne: Goestaf Berki, tel. +38 032 240 9323

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000