Spring na inhoud

11 NOVEMBER 2014
OEKRAÏNE

Te midde van konflik in die Oekraïne vergader Jehovah se Getuies vreedsaam, en ’n Bybel word vrygestel

Te midde van konflik in die Oekraïne vergader Jehovah se Getuies vreedsaam, en ’n Bybel word vrygestel

Anthony Morris van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies stel die hersiene Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in Oekraïens vry.

LVIV, die Oekraïne—Ten spyte van die oorlog in die ooste van die Oekraïne het Jehovah se Getuies van 4-6 Julie 2014 in Lviv vergader vir hulle “Hou aan om eers God se Koninkryk te soek!”-streekbyeenkoms. Die hersiene Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in moderne Oekraïens is vrygestel deur Anthony Morris, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies.

Die plaaslike takkantoor van die Getuies het gereël dat 8 stede en nog 62 plekke in die Donetsk-gebied, waar die hewigste gevegte plaasgevind het, sekere dele van die byeenkoms via videoverbinding kon geniet. Die bywoningsyfer, wat die gehoor by hierdie plekke ingesluit het, was 82 832, met ’n hoogtepunt van 18 336 by die stadion in Lviv. Altesaam 1 068 is gedoop.

Die bywoningshoogtepunt by die “Hou aan om eers God se Koninkryk te soek!”-streekbyeenkoms in Lviv was 18 336.

Op die eerste dag van die byeenkoms is die program onderbreek deur ’n bomdreigement, wat tot die onmiddellike ontruiming van die stadion gelei het. Die hele stadion met meer as 16 000 mense is binne 11 minute ontruim, maar die program is gou weer voortgesit nadat die owerheid bevestig het dat die dreigement ’n vals alarm was.

Wasil Kobel, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies in die Oekraïne, sê: “Ons was verheug om soveel besoekers by ons byeenkoms te hê. Die hoogtepunt was die vrystelling van die hersiene Nuwe Wêreld-vertaling in Oekraïens, wat in Oktober 2013 in Engels vrygestel is. Ons is opgewonde om ons bure te vertel van die Bybel se belofte van ’n vreedsame toekoms, veral gedurende hierdie moeilike tyd in ons land se geskiedenis.”

Mediaverteenwoordiger(s):

Internasionaal: J.R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Die Oekraïne: Wasil Kobel, tel. +38 032 240 9323

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000