7 OKTOBER 2015
OOSTENRYK
Gedenkplaat onthul vir Oostenrykse Getuie wat deur Nazi’s tereggestel is, distriksburgemeester was hoofspreker
WENE—Op 13 Mei 2015 het ongeveer 400 mense die onthulling bygewoon van ’n gedenkplaat ter ere van Gerhard Steinacher, een van Jehovah se Getuies. Hy is 75 jaar gelede deur die Nazi’s tereggestel omdat hy geweier het om by die Duitse leër aan te sluit. Die burgemeester van Wene se Meidling-distrik, Gabriele Votava, was die hoofspreker toe die gedenkplaat onthul is. Dit is gemonteer teen die muur van die Steinacher-gesin se voormalige woning in Lägenfeld-laan 68, Meidling, Wene.
Die tema van die program was gebaseer op die verduideliking wat mnr. Steinacher tydens sy genadeversoek gegee het en was “Ek kan eenvoudig nie skiet nie”. Hierdie eenvoudige woorde spreek boekdele oor die Christelike waardes wat vir mnr. Steinacher so kosbaar was, soos weerspieël word in Jesus se woorde in Matteus 19:19: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
As ’n jong man was Gerhard ’n student van die Bybel. Toe hy 17 was, het hy besluit om een van Jehovah se Getuies te word. Op 15 September 1939 is mnr. Steinacher in hegtenis geneem omdat hy gewetensbeswaar teen militêre diens aangeteken het en geweier het om ’n eed van lojaliteit teenoor Hitler af te lê. Nadat hy ses weke lank in Wene in die tronk was, is mnr. Steinacher na die Moabit-gevangenis in Berlyn, Duitsland, gestuur waar hy gewag het om verhoor te word.
Op 11 November 1939, die eerste dag van sy eerste verhoor, is mnr. Steinacher daarvan aangekla dat hy die oorlogspoging ondermyn en is hy die doodstraf opgelê. Hy het die hof om genade versoek op grond van sy godsdiensoortuigings. Maar op 2 Maart 1940 het die Reichskriegsgericht (die Ryk se krygshof) die doodsvonnis bevestig. Vier weke later, op 30 Maart, is mnr. Steinacher by Berlyn se berugte Plötzensee-gevangenis met die guillotine tereggestel. Hy was 19 jaar oud.
Nadat die gedenkplaat onthul is, is die geleentheid by die nabygeleë Volkshochschule-teater voortgesit. Een van die items op die program was ’n uitstalling wat die Steinachers se familiegeskiedenis uitgebeeld het. Dit het ’n klein boksie ingesluit—wat in 1976 gevind is—met 28 briewe wat Ignatz en Luise Steinacher vir hulle seun Gerhard geskryf het terwyl hy in die gevangenis was sowel as 25 poskaarte en briewe wat Gerhard geskryf het om sy ouers te vertroos en sy oortuiging uit te spreek in die geloof wat hulle in gemeen gehad het.
’n Berig oor die geleentheid in die Wiener Bezirkszeitung, ’n weeklikse Weense koerant, het dit beskryf as ’n “merkwaardige gedenkteken” wat mnr. Steinacher se dapper dade aan die wêreld bekendgemaak het. Die artikel het mnr. Steinacher verder geprys deur te sê: “Hy was bereid om vir sy beginsels te sterf—dieselfde beginsels waarvoor hy gelewe het.”
Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000