2 MAART 2016
PALESTYNSE GEBIEDE
Geskil oor regte oor persoonlike status vir Jehovah se Getuies in Palestynse gebiede
Mike Jalal en Natali Sa’ad is deel van die klein Christengemeenskap van Jehovah se Getuies in die Palestynse gebiede. Hoewel hulle wettig getroud is, kan hulle nie ’n huweliksertifikaat kry nie. Eers onlangs en met ’n groot gesukkel het hulle daarin geslaag om ’n geboortesertifikaat vir hulle seuntjie, Andrae, te kry. Die Sa’ads is nie die enigstes in hierdie situasie nie. Ander Getuie-egpare het dieselfde probleem. Aangesien die Getuies aan ’n godsdiens behoort wat nie wetlik erken word in die Palestynse gebiede nie, weier die owerheid om hulle basiese regte ten opsigte van persoonlike status te erken.
Gebrek aan wetlike erkenning beïnvloed persoonlike regte
Die Sa’ads is in Israel deur ’n bedienaar van Jehovah se Getuies in die huwelik bevestig. Maar die Departement van Binnelandse Sake in die Palestynse gebiede het geweier om die huwelik te registreer omdat Jehovah se Getuies nie wetlik erken word as ’n godsdiensgroep in hierdie gebiede nie. Aangesien amptenare nie die huwelik erken nie en gevolglik alle kinders uit die verbintenis as buite-egtelik beskou, het die Departement van Binnelandse Sake geweier om hulle te registreer. Die Sa’ads en ander Getuie-ouers het aangehou om hierdie onreg te probeer regstel.
Geskil oor geboortesertifikate word opgelos
In 2014 het die Departement van Binnelandse Sake gehoor gegee aan versoeke om die kinders te registreer. Die Sa’ads is verlig dat Andrae (wat op 30 Januarie 2012 gebore is) uiteindelik ’n wettige identiteitsdokument het. Die ouers van Maya Jasmin, Laura en Cristian, in die foto hierbo, is dankbaar dat die Departement van Binnelandse Sake geboortesertifikate vir hulle kinders uitgereik het en hulle as “Christen” geïdentifiseer het.
Die kinders het nou behoorlike identiteitsdokumente en het dieselfde regte as ander burgers. Hulle ouers kan nou sonder probleme saam met hulle oor die grens reis en kan hulle by skole inskryf.
Ander regte oor persoonlike status steeds nie opgelos nie
Ten spyte van daardie positiewe verwikkeling weier die owerheid steeds om huweliksertifikate aan die Sa’ads en sewe ander Getuie-egpare uit te reik. Gevolglik diskrimineer lede van die gemeenskap teen hulle en beskou hulle hulle verkeerdelik as ongetroude persone wat in ’n onsedelike verhouding saamwoon.
Aangesien die regering hulle nie wetlik wil erken nie, moet eggenote hulle inkomstebelasting afsonderlik indien en aparte bankrekeninge hê. As daar ’n mediese noodgeval is, het die een eggenoot nie wetlik die reg om namens die ander eggenoot op mediese behandeling te besluit nie. As die een eggenoot sterf, kan die huweliksmaat en kinders nie sy bates erf nie. Families kan nie hulle afgestorwe geliefdes in ooreenstemming met hulle Christelike oortuigings begrawe nie. Hulle moet hulle in ’n Islamitiese begraafplaas begrawe in ’n deel wat opsygesit is vir nie-Moslems.
Pogings om wetlik erken te word
In September 2010 het Jehovah se Getuies by die owerheid aansoek gedoen sodat hulle wetlik erken kan word in die Palestynse gebiede. Toe hulle ná meer as twee jaar nog niks gehoor het nie, het die Getuies ’n versoek vir wetlike erkenning by die Hooggeregshof in Ramallah ingedien. In Oktober 2013 het die hof die versoek op grond van tegniese redes verwerp.
Sedertdien het die Getuies verdere regstappe geneem en met amptenare vergader om die geskil op te los. Maar omdat regeringsamptenare dit nie opgevolg het nie, was daar geen verdere vordering nie.
Philip Brumley, hoofregsadviseur vir Jehovah se Getuies, het gesê: “Die Getuies is al byna 100 jaar lank in Ramallah en die omliggende gebiede. Hulle is dankbaar dat die owerheid hulle die vryheid gee om hulle aanbidding in vrede te beoefen. Maar die godsdiensdiskriminasie wat verhinder dat Jehovah se Getuies wetlik erken word, behoort nie hulle basiese menseregte uit te sluit nie.”
Jehovah se Getuies erken dat die Palestynse owerheid ’n stap in die regte rigting geneem het om hulle regte oor persoonlike status te verbeter deur geboortesertifikate uit te reik. Die egpare wat tans nie huweliksertifikate het nie, is optimisties dat die owerheid die oorblywende kwessies rakende persoonlike status sal oplos en hulle godsdiens uiteindelik wetlik sal erken.