25 APRIL 2024
PARAGUAY
Getuies vestig aandag op God se Woord gedurende nasionale boekeskou in Paraguay
Van 28 Februarie tot 10 Maart 2024 is ’n jaarlikse boekeskou wat bekend staan as Libroferia Capel in Asunción, Paraguay, gehou. Ongeveer 10 000 mense van alle ouderdomme woon elke jaar die geleentheid by. Meer as 160 van ons broers en susters het beurte gemaak om by ’n stalletjie te werk wat die aandag vestig op God se Woord en die verskillende Bybelstudiehulpe wat op jw.org beskikbaar is. Elektroniese en gedrukte publikasies was in Guarani, Paraguaanse Gebaretaal en Spaans ten toon gestel.
Een man het na die stalletjie toe gekom nadat hy ’n teken gesien het wat gratis Bybelstudies geadverteer het. Ons broers het aan die man verduidelik hoe ons Bybelstudieprogram werk en vir hom die Geniet die lewe vir ewig!-brosjure gewys. Nadat die man daarna gekyk het, het hy gesê: “Ek het geen idee gehad dat die Bybel al hierdie vrae kan beantwoord nie!” Hy was ook baie bly om te leer dat God se persoonlike naam Jehovah is. Reëlings is getref om hom te kontak en ’n Bybelstudie met hom te begin.
By ’n ander geleentheid het ’n man met ’n suster by die stalletjie begin praat. Hy het gesê hoe bly hy is om te sien hoeveel inligting op ons webwerf beskikbaar is in Guarani, Guarani (Mbyá) en Nivaclé. Hy het Jehovah se Getuies geprys vir hulle pogings om Bybelpublikasies in verskillende inheemse tale te vertaal.
Broer Daniele Sarcone, wat gehelp het om die vrywilligers te organiseer, het gesê: “Ons was baie bly dat ons soveel goeie gesprekke gehad het met dié wat belangstel om meer oor die Bybel te leer.” Gedurende die boekeskou het ten minste 13 mense oor ’n persoonlike Bybelstudie gevra.
Ons is bly dat baie mense in Paraguay oor die Bybel en Jehovah leer. En ons weet dat daar nog baie meer mense is wat oor die waarheid moet hoor. – Psalm 119:160.