Spring na inhoud

17 OKTOBER 2019
PERU

Spesiale kampanje in Puno, Peru, bereik mense wat Aymara praat

Spesiale kampanje in Puno, Peru, bereik mense wat Aymara praat

Peru se takkantoor het ’n spesiale predikingskampanje gereël vir 1 Mei tot 31 Augustus 2019. Hulle wou graag die Bybel se boodskap aan Peruaanse mense wat Aymara praat, verkondig. Die kampanje was ’n groot sukses. Die mense wat deel was van die kampanje, het 7 893 stukke lektuur uitgegee en sowat 2 500 keer video’s gewys. Teen die einde van die kampanje het ons broers 381 Bybelstudies begin.

Daar is ongeveer 450 000 mense in Peru wat Aymara praat en sowat 300 000 mense wat in die gebied van Puno bly. Op die oomblik is daar 331 verkondigers wat Aymara praat. Hulle is deel van sewe gemeentes en agt groepe. Omdat die gebied so groot is en daar so min verkondigers in Peru is, het verkondigers van Chili wat Aymara praat, ook met die kampanje gehelp. Om die mense wat Aymara praat, te bereik moes ons broers soms tot 5 000 meter bo seespieël klim en preek in temperature van nul grade Celsius.

Een groep het ’n hele paar uur gereis na ’n area waar mense van ’n nabygeleë dorpie bymekaargekom het vir ’n begrafnis. Die broers en susters kon hulle vertel van die Bybel se hoop vir die dooies. Die plaaslike owerheid en die hartseer familie was baie dankbaar teenoor die broers en susters omdat hulle die moeite gedoen het om die Bybel se vertroostende boodskap vir hulle te bring.

Ons broers en susters het in ’n ander area ’n groep mense gekry wat twee keer ’n week bymekaargekom het om die Bybel te studeer. Die verkondigers het agtergekom dat die groep die boeke Die grootste mens wat nog geleef het en My boek met Bybelverhale gebruik. Die groep het die boeke by ’n familielid gekry wat in Bolivia bly. Toe die groep uitvind dat ons organisasie hierdie boeke uitgegee het, het baie van hulle saam met ons broers die Bybel begin studeer en ons vergaderinge begin bywoon.

Broer Albert Condor, ’n ouerman wat die leiding geneem het in een groep, sê: “Ek en my vrou is baie bly dat ons deel kon wees van hierdie kampanje. Dit het ons geloof in Jehovah versterk, want toe ons na die dorpie begin reis, was ons nie heeltemal seker hoe ons daar sou uitkom nie. En dit was ’n moeilike reis. Toe ons daar aankom, het ons vir Jehovah gebid om ons te help om ’n blyplek te kry. En hy het ons gehelp. Daardie gebede het my versterk, en om te sien hoe die ander broers op Jehovah vertrou, het my ook versterk.”

Die broers en susters is baie bly om die waarheid oor God se Woord wat tot die ewige lewe kan lei, aan die mense in Puno, Peru, wat Aymara praat, te verkondig. – Openbaring 22:17.