9 OKTOBER 2018
PERU
Thailand se ambassade spreek “opregte waardering en respek” vir Jehovah se Getuies in Peru uit
Verteenwoordigers van Thailand se ambassade in Peru het op 26 Junie 2018 die takkantoor van Jehovah se Getuies in Lima, die hoofstad, besoek. Die doel was om dankie vir ons broers te sê omdat hulle mense van Thailand wat in die tronk in Peru is, gehelp het.
Jehovah se Getuies in Peru besoek al vanaf 2007 tronke as deel van hulle Bybelonderrigtingswerk. Maar van die begin van 2013 af het die broers ’n tronk besoek waar daar gevangenes van Thailand is. Die konsul van Thailand het die takkantoor gekontak sodat hy dit kan besoek omdat hy beïndruk was met die persoonlike belangstelling wat die broers getoon het.
Die volgende mense van die ambassade het gekom vir die toer: Mnr. Angkura Kulvanij, diplomaat; Mnr. Pathompong Singthong, eerste sekretaris/konsul; en Me. Pradthana Pongudom, konsulêre assistent. Lede van die Takkomitee het saam met hulle op ’n toer van die takkantoor gegaan. Hulle het geleer oor die uitgebreide vertaalwerk wat by die takkantoor gedoen word, wat die vertaling van publikasies in nege inheemse tale insluit.
’n Amptelike brief van die ambassade aan die takkantoor het “opregte waardering en respek” uitgespreek vir ons broers wat hard werk om te sorg vir “die mense in Peru wat arm en minderbevoorreg is, maak nie saak wat hulle godsdiens of kultuur is nie”. Die ambassade het ook die “harde werk en bydrae van Jehovah se Getuies in die takkantoor van Peru geprys omdat hulle gevangenes van Thailand help om minder probleme en ’n beter lewe te hê”.
Die ondervinding van ons broers in Peru wys watter goeie uitwerking dit het omdat Jehovah se Getuies aanhou om die Bybel se boodskap aan alle soorte mense te verkondig. — 1 Korintiërs 9:22.