Spring na inhoud

Of hulle nou by ’n grenspos wag of pakkies maak, ons broers en susters in Pole is gereed om medeknegte van Jehovah uit Oekraïne te help

7 APRIL 2022
POLE

Vrygewig in ’n tyd van nood

Broers en susters is “altyd gasvry”

Vrygewig in ’n tyd van nood

Barbara Osmyk-Urban saam met haar kinders, Jakub en Nina

Suster Barbara Osmyk-Urban, ’n enkelma wat in Rzeszów, Pole, bly het hulle weeklikse Gesinsaanbidding as ’n geleentheid gebruik om haar kinders, die tienjarige Jakub en die agtjarige Nina, lesse te leer oor gasvryheid en empatie. Die gesin het hierdie lesse prakties toegepas. Vandat die oorlog in Oekraïne op 24 Februarie 2022 begin het, het meer as 20 broers en susters by hulle gebly.

Terwyl ons broers en susters uit die oorloggeteisterde Oekraïne na veiliger gebiede vlug, verwelkom Getuies in Pole en ander lande die broers en susters in hulle huise of bied hulle aan om op ander maniere te help. Tot nou toe het ten minste 11 000 Getuies uit Oekraïne na Pole gevlug. As gevolg van die oorlog word mans in Oekraïne tussen die ouderdom van 18 en 60 nie toegelaat om die land te verlaat nie. Maar mans wat ten minste drie minderjarige kinders het, word toegelaat om die land te verlaat.

Barbara sê: “Hierdie vlugtelinge uit Oekraïne is ons geestelike familie.” Haar kinders voel ook dieselfde broederlike liefde. Jakub en Nina het gewilliglik hulle kamers vir die broers en susters gegee. Omdat taal ’n probleem is, het hulle met glimlagte, drukkies en trane gekommunikeer. Toe die vlugtelinge uiteindelik vertrek het, het Jakub gesê dat die huis te stil is en sy ma gevra of nog broers en susters by hulle kon bly.

Łukasz Cholewiński en Rafał Jankowski

Broer Łukasz Cholewiński en Rafał Jankowski vat kos, water, medisyne en ander noodsaaklikhede na Oekraïne. Die broers beskryf hoe hulle gesien het hoe groot groepe vrouens en kinders by die grensposte gehuil en gewag het om veilig oor die grens te kom. Łukasz vertel: “Wat verbasend is, is dat wanneer ons ons broers en susters ontmoet, hulle vreugdevol is.”

Dit kan tot vier ure vat om na Oekraïne en terug te ry. Wanneer die voorraad daar aankom, versprei die broers in Oekraïne dit regoor die land. Daar is nie ’n tekort aan vrywilligers om na Oekraïne te ry nie, ten spyte van die moontlike gevaar. Rafał het gesê: “Dit is ’n groot eer en voorreg om te help.”

Suster Elżbieta Ustrzycka, wat in Rzeszów bly, beskryf hoe sy gevoel het toe Oekraïense Getuies na haar huis toe gekom het: “Dit het my diep geraak toe ek sien hoe die ouermanne van my gemeente hierdie gesinne na my huis toe gebring het, selfs in die middel van die nag met kinders wat in hulle arms slaap. Dit is iets wat ek nog lank sal onthou.”

Bartłomiej en Estera Figura

Broer Bartłomiej Figura is een van die ouermanne wat sonder ophou werk. Hy en sy vrou, Estera, gaan na die grens of na treinstasies om mede-Getuies na veiligheid te bring. Daar is tye wanneer hierdie paartjie ander blyplek kry sodat die broers en susters in hulle woonstel kan bly. Wanneer dit vir hulle moontlik is, gee hulle ook materiële ondersteuning.

Bartłomiej sê: “Ons is een geestelike familie. Ons voel baie na aan die broers en susters. Wanneer ons ander help, sien ons dikwels hoe Jehovah na ’n spesifieke behoefte van ons broers en susters omsien.”

Tot nou toe het ons Poolse broers ongeveer 23 000 pakkies gemaak, wat kos, persoonlike higiëniese produkte en ander noodsaaklike items insluit.

Poolse kinders en hulle ouers gebruik die JW Language- en JW Library-apps om kaartjies in Oekraïens te skryf. Dit word in die pakkies gesit

Ons is oortuig dat Jehovah sal aanhou om vir ons broers en susters in Oekraïne te sorg terwyl hulle Christelike broers en susters aanhou om vrygewig te wees. – Spreuke 11:24; Romeine 12:13.