Spring na inhoud

20 JULIE 2020
ROEMENIË

Noodlenigingswerk in Roemenië help ons broers en word deur burgemeester geprys

Noodlenigingswerk in Roemenië help ons broers en word deur burgemeester geprys

In Junie 2020 het swaar reën en oorstromings die dorpie Rodna in Transsilvanië, Roemenië, getref. As gevolg hiervan is ses van ons broers se huise beskadig. Op 27 Junie 2020 het die kringopsiener in Rodna saam met die plaaslike ouermanne gewerk en gereël dat 25 broers en susters van drie gemeentes in die omgewing met dringende noodlenigingswerk help. a Ons broers se noodlenigingswerk is deur die burgemeester van Rodna raakgesien, wat hulle in die plaaslike media geprys het.

Die dorpie Rodna is in ’n vallei met baie riviere. Die oorstromings het onder andere baie modder agtergelaat, wat dit amper onmoontlik gemaak het om by die dorpie uit te kom. Een van ons susters woon in die gebied waar die burgemeester van Rodna en sy span dit moeilik gevind het om die modder en alles wat die oorstromings agtergelaat het, te verwyder. Toe ons broers daar aankom, het hulle gehelp om die gebied skoon te maak sodat hulle die suster se huis kon skoonmaak. So het hulle ook die burgemeester en sy span gehelp.

Later het die burgemeester die broers geprys gedurende ’n onderhoud op ’n plaaslike televisiestasie. Hy het gesê: “Ek wil vir julle vertel van ’n ongelooflike voorbeeld wat my diep geraak het. . . . Op die eerste dag het ons met ’n groot trok en ’n trekker gewerk, maar ons kon nie die werk klaarkry nie. Die streek was verwoes. Die volgende dag is ons gehelp . . . deur meer as 30 [mense], vrywilligers wat Jehovah se Getuies is. Teen die aand het ons met die werk klaargekry.” Hy het afgesluit: “Hierdie mense het gehelp om die gebied skoon te maak. Ek is dankbaar teenoor hulle!”

Die burgemeester het ook ’n boodskap vir die broers en susters op ’n webwerf gesit. Hy het gesê: “Mag Jehovah julle almal vanuit die hemel seën en mag hy julle ’n lang lewe, gesondheid en baie sukses gee!”

Hierdie ondervinding uit Roemenië is net nog ’n voorbeeld van hoe ons goeie gedrag lof bring op ons hemelse Vader, Jehovah. – 1 Petrus 2:12.

a Hoewel die meeste herbouingswerk gestop is as gevolg van die pandemie, moes hierdie huise dadelik reggemaak word.