Spring na inhoud

Hofburg-paleis in Wene, waar die Permanente Raad van die Organisasie vir Veiligheid en Samewerking in Europa (OSCE) is

11 AUGUSTUS 2020
RUSLAND

Amerikaanse en Europese amptenare veroordeel Rusland se sistematiese vervolging van Jehovah se Getuies

Amerikaanse en Europese amptenare veroordeel Rusland se sistematiese vervolging van Jehovah se Getuies

Die Verenigde State en omtrent 30 Europese lande het die sistematiese vervolging en marteling van ons broers in Rusland sterk veroordeel. Hierdie internasionale veroordeling van Rusland het op 23 Julie 2020 gebeur gedurende ’n vergadering wat deur die Permanente Raad van die Organisasie vir Veiligheid en Samewerking in Europa (OSCE) a gehou is.

Me. Lane Darnell Bahl, die waarnemende politieke raadgewer vir die OSCE se Amerikaanse afvaardiging, het vir die amptenare wat bymekaargekom het, gesê: “Die Verenigde State en baie ander in hierdie vergadering het die Russiese regering veroordeel en sal aanhou om hulle te veroordeel. Dit is as gevolg van verslae dat die Russiese regering huise van Jehovah se Getuies deursoek het, hulle onregverdig gearresteer het, hulle gemartel het en hulle tronk toe gestuur het, party vir so lank as ses jaar.”

Die amptenare was veral bekommerd oor onlangse verslae dat die Russiese owerhede in die Woronezj-streek meer as 100 huise van Jehovah se Getuies deursoek het. Me. Bahl het gesê: “Die omvang van hierdie vervolging teen lede van ’n vreedsame godsdiensminderheidsgroep is regtig skokkend.”

Me. Nicola Murray, die onderhoof van die Britse afvaardiging, het ook gesê dat sy bekommerd is as gevolg van “die toename in huise wat deursoek word, asook die feit dat soveel huise op dieselfde tyd deursoek word. Dit skep die indruk van ’n georganiseerde kampanje van vervolging teen Jehovah se Getuies. Die Russiese regering het party Getuies ondersoek en krimineel vervolg omdat hulle gereeld deelneem aan hulle godsdiensbedrywighede.”

Die Woronezj-owerhede het beweer dat die Getuies tronk toe geneem is omdat hulle skuldig is aan “sameswering”. Maar me. Bahl het ook gesê dat hierdie beskuldiging vals is. Hierdie beskuldiging van sameswering sluit dinge in soos om verslae en ander dokumente in elektroniese formaat te stoor, om groepe te reël en om vergaderinge te hou deur middel van videoverbinding. Me. Bahl het hierdie beskuldiging van die Russiese owerhede “belaglik en skandelik” genoem. Sy het gesê: “Ek doen elke dag hierdie soort dinge.” Sy het ook gesê dat lede van die Russiese afvaardiging, wat aanlyn aan die OSCE-vergadering deelneem, self “skuldig is aan sulke bedrywighede”.

In ’n gesamentlike verklaring het die 27 lidlande van die Europese Unie (EU) en nog 8 lande wat nie lede is nie, gesê: “Ons het die Russiese afvaardiging meer as een keer in die Permanente Raad hoor sê dat Jehovah se Getuies nou en in die toekoms vry is om hulle geloof te beoefen en dat vryheid van godsdiens of oortuiging gewaarborg word in die Russiese Federasie. Tog bly ons baie verslae sien oor huise wat deursoek word, aanhoudings en kriminele ondersoeke wanneer dit by Jehovah se Getuies kom. Dit stem nie ooreen met die bewerings deur die Russiese afvaardiging nie.”

Die EU-afvaardiging het ook gesê: “Alle mense, insluitende lede van Jehovah se Getuies, moet vreedsaam hulle menseregte kan geniet. Dit sluit die reg op vryheid van godsdiens of oortuiging, vryheid van assosiasie en om vreedsaam te vergader en vrye meningsuiting in, sonder diskriminasie, soos gewaarborg word deur die grondwet van die Russiese Federasie [en] die OSCE se vereistes en Rusland se verpligtinge onder internasionale wetgewing.”

Me. Murray het die Britse verklaring afgesluit deur Rusland te vra om ’n einde te maak aan die vervolging van Jehovah se Getuies.

Me. Bahl het daarop aangedring dat Rusland: (1) ophou met kriminele ondersoeke teen Jehovah se Getuies, (2) die hoofkwartier van Jehovah se Getuies in Rusland aan hulle teruggee en (3) alle Getuies wat in die tronk is, dadelik vrylaat.

Dit is nie die eerste keer dat internasionale organisasies Rusland veroordeel vir sy behandeling van ons broers en susters nie. Rusland is gewaarsku – die wêreld weet dat die land besig is om ons broers en susters wreed te vervolg. Nog belangriker, ons weet dat Jehovah bewus is van wat ons broers en susters in Rusland deurmaak (Psalm 37:18). Ons liefdevolle hemelse Vader sal beslis aanhou om hulle getrouheid, moed en volharding te seën. – Psalm 37:5, 28, 34.

a Die doel van die OSCE is, onder andere, om menseregte te beskerm. Die Permanente Raad is die groep wat die meeste besluite van die OSCE maak.