Spring na inhoud

18 MEI 2020
RUSLAND

Amerikaanse wetgewers stel ’n resolusie voor; vra Rusland om broer Dennis Christensen vry te laat

Amerikaanse wetgewers stel ’n resolusie voor; vra Rusland om broer Dennis Christensen vry te laat

Twee lede van die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers, ’n deel van die regering se wetgewende afdeling, het Resolusie 958 voorgestel. Dit is ’n regsdokument wat Rusland veroordeel vir die onregverdige aanhouding van ons broer Dennis Christensen. Hierdie resolusie is die jongste veroordeling van Rusland deur regeringsamptenare omdat Rusland ons broers en susters vervolg as gevolg van hulle godsdiensoortuigings.

Broer Christensen is in Mei 2017 gearresteer en in die tronk gesit net omdat hy aan Christelike vergaderinge van Jehovah se Getuies deelgeneem het. Op 8 Mei 2020 is die resolusie voorgestel deur Eliot L. Engel en Michael T. McCaul. Dit vra die Russiese regering om broer Christensen dadelik vry te laat.

Die resolusie sê: “Dennis Christensen, een van Jehovah se Getuies en ’n Deense burger, is op 6 Februarie 2019 tot ses jaar tronkstraf gevonnis. Die Amerikaanse Kommissie vir Internasionale Godsdiensvryheid veroordeel hierdie uitspraak en beskou dit as nog ’n bewys dat die Russiese regering ‘verantwoordelik is vir erge skendings van godsdiensvryheid en dit toelaat’.”

Op 25 Mei 2020 is broer Christensen al drie jaar in die tronk. Hy is een van 32 Getuies wat in die tronk is in Rusland, waarvan 9 skuldig bevind is en 23 in aanhouding is voor hulle verhoor. Nog 18 medegelowiges is onder huisarres. Sedert 2017 het Rusland amper 900 huise van Getuies deursoek. As gevolg hiervan is 331 Getuies van Jehovah krimineel aangekla.

Regeringsamptenare in die Verenigde State en Europa het Rusland sterk veroordeel omdat hulle Jehovah se Getuies vervolg vir hulle godsdiens.

Ongeag of Resolusie 958 aangeneem word en enige verandering veroorsaak, ons weet dat Jehovah sal aanhou om ons broers en susters in Rusland te help om met vreugde te volhard. Ons sien uit na die tyd wanneer Jehovah almal wat “moeilikheid maak in die naam van die wet”, sal vernietig. – Psalm 94:20-23.