Spring na inhoud

Andrei en sy vrou, Swetlana, buite die hof nadat daar beslis is dat hy nie meer onder huisarres hoef te wees nie

22 AUGUSTUS 2019
RUSLAND

Appélhof beveel dat broer Andrei Soeworkof nie meer onder huisarres hoef te wees nie

Appélhof beveel dat broer Andrei Soeworkof nie meer onder huisarres hoef te wees nie

Op 13 Augustus 2019 het die appélhof in die stad Kirof beslis dat die 26-jarige broer Andrei Soeworkof nie meer onder huisarres hoef te wees nie. Hoewel broer Soeworkof meer vryheid gegee is, is daar nog steeds ’n kriminele saak teen hom.

Soos voorheen berig is, is broer Soeworkof saam met sy stiefpa en drie ander broers gearresteer. Dit het op 9 Oktober 2018 gebeur, toe die plaaslike polisie en gemaskerde spesiale magte 19 huise in Kirof deursoek het.

Broer Soeworkof vertel wat gebeur het toe hulle sy huis deursoek het: “Baie van ons waardevolle goed was weggevat. Maar ek en my vrou was nie te bekommerd hieroor nie. Ons het altyd probeer om ons lewe eenvoudig te hou en het nie te geheg geraak aan materiële dinge nie. Die raad in Matteus 6:21 het ons gehelp om kalm te bly. Dit sê: ‘Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.’”

Nadat die huise deursoek is, is kriminele sake teen broer Soeworkof, sy stiefpa en drie ander broers gemaak. Die kriminele sake is gemaak omdat hulle Koninkryksliedere gesing het, godsdienslektuur gestudeer het en ’n kopie van die Russiese Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel gehad het. Hulle was almal in ’n tydelike aanhoudingsfasiliteit gehou terwyl hulle gewag het vir ’n hof om te beslis of hulle vrygelaat of opgesluit moet word voor hulle verhoor.

Broer Soeworkof beskryf sy ondervinding: “Ek was twee nagte in ’n tydelike aanhoudingsfasiliteit. Aan die begin het ek nie opgehou bid nie. Ek was seker dat Jehovah my sou hoor en my sou ondersteun. Ek het Koninkryksliedere onthou en dit gesing. Later het ek meer as 50 liedere en hulle woorde onthou.”

Die hof het beslis dat broer Soeworkof en die ander in aanhouding moet bly totdat hulle verhoor word. Gedurende die eerste week wat broer Soeworkof in aanhouding was, het hy daarop gefokus om ander te help. Hy onthou: “Ek het besluit om broers by hulle name in my gebede te noem en het aanmoedigende briewe geskryf aan dié wie se adres ek kon onthou. Dit het my gelukkig gemaak.” – Handelinge 20:35.

Ná ’n paar maande is al die broers uiteindelik onder huisarres geplaas, behalwe broer Andrzej Oniszczuk. Broer Soeworkof is een van die eerste broers wat nie meer onder huisarres is nie.

Broer Soeworkof sê: “Wanneer ek terugkyk na wat gebeur het, is ek baie bly dat ek tronk toe kon gaan. . . . Ek weet nie wat in die toekoms kan gebeur en of ek weer in die tronk kan beland nie. Ek het nou die vertroue dat Jehovah en sy organisasie my sal ondersteun, selfs al is ek in die tronk. Maar ek is nie bang om weer tronk toe te gaan nie.”