Spring na inhoud

Dr. Sergei Igorewitsj Iwanenko, godsdiensgeleerde en adviseur van die Russiese Federasie

18 OKTOBER 2019
RUSLAND

Bekende Russiese godsdiensgeleerde getuig namens Jehovah se Getuies in Saratof

Bekende Russiese godsdiensgeleerde getuig namens Jehovah se Getuies in Saratof

Op 4 September 2019 is ’n bekende godsdiensgeleerde en adviseur van die Russiese Federasie, Sergei Igorewitsj Iwanenko, genooi om onder eed namens Jehovah se Getuies te getuig. Hy het getuig in ’n saak teen ses Getuies van Jehovah in Saratof. Dr. Iwanenko is die skrywer van twee publikasies oor Jehovah se Getuies in Rusland wat deur ander geleerdes gerespekteer word. Die volgende uittreksels kom uit sy getuienis wat hy onder eed gegee het:

Die lewe en gebruike van Jehovah se Getuies se godsdiens. “Daar is een ding wat Jehovah se Getuies uniek maak: Hulle vertrou nie op streng reëls of die gesag van ’n spesifieke leier nie. Hulle help eerder hulle volgelinge om ’n Bybelopgeleide gewete te ontwikkel sodat elkeen persoonlik en gewillig besluite volgens die Bybel kan maak.

“Jehovah se Getuies probeer volg wat in die Bybel staan. Dit is ook wat Jesus Christus en sy dissipels in die eerste eeu gedoen het.

“Hulle aanbid God saam deur die Bybel te studeer, antwoorde uit die Bybel te gee en liedere te sing wat op die Bybel gebaseer is. So dit is duidelik dat Jehovah se Getuies hard werk om die Bybel te volg in alles wat hulle doen.

“Hulle glo ook dat ’n Christen deel van ’n gemeente moet wees. In hierdie geval ondersoek Jehovah se Getuies ook wat die Nuwe Testament sê oor wat Jesus Christus en sy dissipels, of volgelinge, gedoen het en hoe die Christelike kerk ontwikkel het. . . . So Jehovah se Getuies glo dat hulle saam as ’n gemeente moet aanbid.

“Hulle beklemtoon dat dissipels van Jesus Christus uitgeken sal word aan die liefde wat hulle onder mekaar het.”

Die predikingswerk van Jehovah se Getuies. “Jehovah se Getuies is bekend vir hulle predikingswerk. Volgens my kry Jehovah se Getuies eerste plek wanneer dit kom by hulle predikingswerk en ywer. Elke Getuie moet preek en tyd in die predikingswerk deurbring.

“Hulle sê gewoonlik: ‘Dit is wat die Bybel sê.’ Iemand kan die Bybel neem en self kyk of dit waar is. As hy saamstem, kan hy ’n Getuie word. As hy nie saamstem nie, hoef hy nie ’n Getuie te word nie. Die Getuies sal niemand dwing om hulle godsdiens te verander nie.”

Die beskuldiging dat Jehovah se Getuies ekstremiste is. “Eers is party publikasies van Jehovah se Getuies ekstremisties verklaar omdat geleerdes sê dat hierdie publikasies beweer dat Jehovah se Getuies se godsdiens die enigste ware godsdiens is en dat alle ander godsdienste vals is. Ander godsdienste sê soortgelyke dinge, maar net Jehovah se Getuies word van ekstremisme beskuldig. Die feit dat hulle sê dat hulle godsdiens die enigste ware godsdiens is en dat alle ander godsdienste vals is, word gesien as propaganda dat hulle godsdiens beter is as ander.

“As ’n godsdiensgeleerde dink ek dat [die hof se uitspraak] verkeerd is. As jy mooi kyk, sal jy vind dat alle godsdienste al gesê het dat hulle die enigste ware godsdiens is en dat alle ander godsdienste verkeerd is.

“Alle godsdienstige mense glo dat hulle godsdiens die ware godsdiens is en dat ander godsdienste heeltemal verkeerd of meestal verkeerd is. Hulle moet dit glo, want anders is hulle skynheilig.

“Jehovah se Getuies probeer ook baie hard om gehoorsaam te wees aan sekulêre wette solank dit nie in stryd is met God se wette nie. Dit is een rede hoekom daar soveel gevalle is waar Jehovah se Getuies verlore beursies teruggee en boetes en belasting betaal selfs al kan hulle dit ontduik. Hulle is nie ekstremiste nie en hulle is ook nie vals nie. Hulle probeer regtig om eerlik te wees en die wet te gehoorsaam.”

Jehovah se Getuies en die Bybel. “Iets unieks van Jehovah se Getuies is dat hulle verskillende Bybelvertalings gebruik vir studie en in die predikingswerk. Dit is vir hulle baie belangrik om die Bybel in verskillende tale te versprei. In hierdie opsig is hulle uniek omdat hulle soveel op die Bybel fokus. Hulle vertaling van die Bybel is eintlik hier ekstremisties verklaar . . . Dalk het diegene wat die besluit gemaak het, gedink dat Jehovah se Getuies net hulle vertaling van die Bybel gebruik. Hulle het ook gedink dat Jehovah se Getuies sal opgee as hulle dit nie meer mag gebruik nie. Hulle was verkeerd. Jehovah se Getuies respekteer elke vertaling van die Bybel.”

Die gebruik van regsentiteite om geloof te beoefen. “Die uitspraak van die Hooggeregshof van die Russiese Federasie het gewys dat . . . die meeste gemeentes van Jehovah se Getuies nie ’n regsentiteit gehad het nie . . . Daarom is dit nie reg om te sê dat elkeen van Jehovah se Getuies in ’n sekere gebied outomaties deel is van ’n regsentiteit nie.

“Wanneer dit kom by die regsentiteite . . . , ek het hulle regsdokumente deeglik ondersoek. Nêrens word daar verwys na opsieners, ouermanne, pioniers nie; sulke uitdrukkings verskyn nie daarin nie. Die regsdokumente verwys gewoonlik na die stigters, ’n beperkte groep van ongeveer tien persone. Wanneer dit kom by godsdiensbedrywighede verteenwoordig hulle nie die regsbedrywighede nie, maar die godsdiensbedrywighede van Jehovah se Getuies. . . . Hulle bedrywighede bly dieselfde maak nie saak van die land of streek nie.

“Jehovah se Getuies het hulle bes gedoen om gehoorsaam te wees aan die [Hooggeregshof se uitspraak wat net hulle regsentiteite gelikwideer het]. Terselfdertyd hou hulle aan met hulle godsdiensbedrywighede wat nie deur die regering verbied is nie. Hulle hou aan met hulle bedrywighede as private individue wat hulle godsdiens beoefen. Uit hulle oogpunt en die standpunt van godsdienswetenskap gaan hulle bedrywighede nie teen die uitspraak van die Hooggeregshof nie.”

Jehovah se Getuies en bloedoortappings. “Die Bybel sê dat ‘lewe in die bloed is’; daarom moet bloed nooit gebruik word nie. Toe die Bybel dit gesê het, het dit van kos gepraat, maar Jehovah se Getuies se toepassing hiervan is breër. Hulle glo dat bloed nie in enige vorm gebruik mag word nie, nie in kos nie (hulle eet nie bloedwors nie) en ook nie as ’n bloedoortapping nie. Maar hulle aanvaar wel klein bloedfraksies. Elke gelowige moet sy eie besluit maak . . . Hulle weier nie bloedoortappings omdat hulle wil doodgaan nie. Hulle wil eerder goeie mediese sorg hê. Hulle glo ook dat bloedoortappings ’n gevaar vir jou gesondheid kan wees omdat jy vigs of ander siektes as gevolg daarvan kan kry, en baie dokters stem hiermee saam. Operasies sonder bloedoortappings is veiliger. Volgens die statistiek weier baie mense wat ryk is, bloedoortappings omdat dit die kanse van infeksie en komplikasies verminder.”

Jehovah se Getuies en donasies. “’n Persoon kan besluit om nie donasies te gee nie. Dit is moontlik vir ’n persoon om sy hele lewe lank vergaderinge van Jehovah se Getuies by te woon sonder om ’n enkele roebel of dollar by te dra. Dit is elkeen se besluit of hy ’n donasie wil gee of nie.”

Hoewel dr. Iwanenko ’n kenner op die gebied is en gedurende die verhoor gesê het dat Jehovah se Getuies opregte Christene is wat die wet gehoorsaam, het die hof sy getuienis geïgnoreer en al ses broers tot tronkstraf van verskillende tydperke gevonnis.

Terwyl Rusland ons broers en susters nog steeds valslik beskuldig en hulle onregverdig in die tronk sit, hou ons aan bid tot Jehovah dat hy ons moedige en getroue mede-aanbidders sal seën sodat hulle die vreugde sal hê in die wete dat hulle sy goedkeuring geniet. – Psalm 109:2-4, 28.