Spring na inhoud

Broer Aleksandr Ifsjin

12 FEBRUARIE 2021
RUSLAND

Broer Aleksandr Ifsjin (63) gevonnis tot sewe en ’n half jaar tronkstraf omdat hy aanlyn vergaderinge gereël en liedjies gesing het

Broer Aleksandr Ifsjin (63) gevonnis tot sewe en ’n half jaar tronkstraf omdat hy aanlyn vergaderinge gereël en liedjies gesing het

Uitspraak

Op 10 Februarie 2021 het die Abinski-distrikshof van die Krasnodar-gebied broer Aleksandr Ifsjin skuldig bevind. Hy is tot sewe en ’n half jaar tronkstraf gevonnis. Dit is die langste, swaarste vonnis wat een van ons broers gekry het vandat die Hooggeregshof die werk van Jehovah se Getuies in 2017 verbied het.

Profiel

Aleksandr Ifsjin

  • Gebore: 1957 (Kataf-Iwanofsk)

  • Agtergrond: Voordat hy afgetree het, het hy as ’n draaibankwerker, houtkapper en industriële veiligheidsingenieur gewerk. Het in 1974 met sy vrou, Galina, getrou. Hulle het twee dogters en agt kleinkinders

    Nadat hy ernstig siek geword het, het dit hom aan die doel van die lewe laat dink. Nadat hy drie van die vier Evangelies in een nag gelees het, het hy die Bybel begin studeer. Is in 1995 gedoop

Geskiedenis van saak

Die regsprobleme wat Jehovah se Getuies in Abinsk het, het in 2015 begin. Die Plaaslike Godsdiensorganisasie van Jehovah se Getuies is “ekstremisties” verklaar en gelikwideer. Op 23 April 2020, sowat vyf jaar later, is ’n kriminele saak teen broer Aleksandr Ifsjin gemaak. ’n Paar van sy “misdade” was om godsdiensvergaderinge te reël wat oor video-oproepe gehou is en om Koninkryksliedjies te sing.

Toe die owerheid Aleksandr en Galina se huis deursoek het, het hulle bloeddruk as gevolg van die stres gevaarlik hoog geraak. ’n Paar maande nadat sy huis deursoek is, is Aleksandr se kar afgevat. Ten spyte van hierdie probleme het Aleksandr positief gebly. In sy finale woorde voor die hof het hy gesê: “Ek is nie verbaas dat ek in hierdie saak aangekla word nie omdat Jesus hierdie dinge voorspel het. In Matteus 10:18 sê dit: ‘Julle sal voor goewerneurs en konings gebring word ter wille van my, as ’n getuienis vir hulle en die nasies.’ . . . Jesus se woorde laat my nie depressief voel nie. Nee, dit maak my gelukkig omdat ek vir die eerbare hof oor die hoop kan vertel wat alle mense het wat bewus is van hulle geestelike behoefte.”

Aleksandr en Galina dra by tot die groot getuienis wat in Rusland en oor die hele wêreld gegee word. Ons is daarvan oortuig dat hulle ryklik geseën sal word omdat hulle op Jehovah vertrou. – Jeremia 17:7.