Spring na inhoud

Broer Andrei Andrejef (in die middel) saam met (van links na regs) sy dogter, Albina; sy vrou, Swetlana; sy dogter, Anzjelika en haar man Anatoli; (kleiner foto) Broer Andrejef saam met sy vrou nadat hy uit die tronk vrygelaat is

27 FEBRUARIE 2023
RUSLAND

Broer Andrei Andrejef uit Russiese tronk vrygelaat

Broer Andrei Andrejef uit Russiese tronk vrygelaat

Op 22 Februarie 2023 is broer Andrei Andrejef vrygelaat uit ’n tronk in Rusland waar hy meer as drie jaar in aanhouding was.

Op 16 Oktober 2019 is Andrei saam met ’n hele paar ander broers in hegtenis geneem nadat baie huise van Jehovah se Getuies in Koersk deursoek is en baie van hulle ondervra was. Nadat hy amper 20 maande lank in aanhouding voor sy verhoor was, is hy op 3 Junie 2021 tot tronkstraf gevonnis.

Terwyl hy in die tronk was vir sy geloof, het Andrei hard probeer om te sorg vir die geestelike behoeftes van sy vrou, Swetlana, en hulle twee dogters, Anzjelika en Albina. In sy briewe het hy gereeld aanmoedigende gedagtes uit die Bybel ingesluit en selfs die troutoespraak geskryf vir Anzjelika, wat getrou het terwyl hy in die tronk was. Anzjelika sê: “Hy het ’n pragtige toespraak geskryf. Dit het die harte van al ons gaste geraak, . . . en dit het ons laat voel asof hy daardie dag saam met ons was.”

Om vir Andrei te gaan kuier, moes sy familie agt ure per bus ry net om by die tronk te kom. Alhoewel die reis moeilik was, sê Swetlana dat die plaaslike broers en susters haar en haar dogters gehelp het met blyplek, kos en vervoer na die tronk toe. Party het selfs in die ry vir besoekers gestaan, soms deur die nag, om plek te hou sodat die familie Andrei kon besoek.

’n Groep vriende en familie verwelkom broer Andrejef toe hy uit die tronk vrygelaat is

Al het Andrei fisies swaargekry omdat hy in die tronk sleg behandel was, bly sy geloof sterk. As gevolg van sy goeie gedrag en sy Christelike persoonlikheid het hy die respek gekry van die tronkowerhede. Daarom het hulle hom toegelaat om meer besoekers te kry. Andrei sê oor sy tronkstraf: “Ek is oor niks spyt nie, ek is nie kwaad nie en ek haat beslis niemand nie. Met God se hulp het ek getrou gebly en is ek gelukkig.”

Ons is oortuig daarvan dat Andrei se vasbeslotenheid om aan te hou om Christelike liefde te bewys, ryklik deur Jehovah geseën sal word. – 1 Johannes 4:16.