Spring na inhoud

Broer Andrzej Oniszczuk in ’n tronksel in die hof die laaste keer toe sy aanhouding verleng is

9 AUGUSTUS 2019
RUSLAND

Broer Andrzej Oniszczuk amper ’n jaar lank in alleenopsluiting

Broer Andrzej Oniszczuk amper ’n jaar lank in alleenopsluiting

Andrzej Oniszczuk, ’n Poolse burger en een van ons dierbare broers, is al in aanhouding in Rusland vandat die owerheid hom op 9 Oktober 2018 gearresteer het. Sy aanhouding is onlangs vir die vyfde keer verleng. Sy aanhouding is nou veronderstel om op 2 Oktober te eindig, net ’n paar dae voordat hy ’n jaar lank in die tronk is.

Andrzej voordat hy gearresteer is saam met sy vrou, Anna. Sy is nie toegelaat om hom te besoek vandat hy tien maande gelede gearresteer is nie

Vandat Andrzej gearresteer is, is hy in alleenopsluiting. Van 6:00 tot 21:00 word hy nie toegelaat om te lê nie. Hy word net een keer per week toegelaat om 15 minute lank met warm water te stort. Andrzej se vrou, Anna, is nie toegelaat om Andrzej te besoek die tien maande wat hy in aanhouding is nie. Hulle kon net deur middel van briewe met mekaar kommunikeer. Sy het op verskeie kere gevra dat sy Andrzej kan besoek, maar elke keer is haar versoek geweier.

Soos voorheen berig is, is Andrzej gearresteer nadat die plaaslike polisie en gemaskerde spesiale magte sy huis en die huise van 18 ander Getuies in Kirof deursoek het. ’n Kriminele saak is teen Andrzej gemaak omdat hy Koninkryksliedere gesing het en godsdienslektuur bestudeer het.

Vier ander broers van Kirof (44-jarige Maksim Chaltoerin, 66-jarige Wladimir Korobeinikof, 26-jarige Andrei Soeworkof en 41-jarige Ewgeni Soeworkof) is laas jaar saam met Andrzej gearresteer en in aanhouding gesit voordat hulle verhoor word. Hulle is sedertdien onder huisarres gesit. Andrzej se saak, saam met die sake van die ander vier Getuies, moet nog by die Europese Hof van Menseregte verhoor word.

Hierdie jaar het die Russiese owerheid kriminele sake teen nog sewe broers van Kirof gemaak. Die oudste is 70 jaar oud en sy naam is Jefgeni Oedintsef. Altesaam word daar nou 12 Jehovah se Getuies in Kirof krimineel vervolg omdat hulle hulle geloof beoefen.

Laat ons altyd aan die volgende woorde dink wanneer dit kom by Andrzej, Anna en die res van ons liewe Russiese broers en susters: “Dink aan dié in gevangenisboeie asof julle saam met hulle geboei is, en aan dié wat sleg behandel word, aangesien julle self ook nog in ’n liggaam is.” – Hebreërs 13:3.