Spring na inhoud

Broer Artoer Lochwitski saam met sy vrou, Anna

26 JANUARIE 2021
RUSLAND

Broer Artoer Lochwitski kan tot vier jaar tronkstraf kry nadat huise in Birobidzjan deursoek is

Broer Artoer Lochwitski kan tot vier jaar tronkstraf kry nadat huise in Birobidzjan deursoek is

Datum van uitspraak

Op 2 Februarie 2021 a sal die Birobidzjan-distrikshof in die Joodse selfregerende streek sy uitspraak gee in die saak oor broer Artoer Lochwitski. Hy kan tot vier jaar tronkstraf kry.

Profiel

Artoer Lochwitski

  • Gebore: 1986 (Belgorodskoje, Joodse selfregerende streek)

  • Agtergrond: Toe Artoer sewe jaar oud was, het sy pa gesterf. Het ’n elektrisiën geword wat spesialiseer in brandbeskerming. Het toekennings gekry omdat hy ’n harde werker is

    Toe Artoer jonk was, het sy ma hom gehelp om lief te word vir Jehovah. Is in 1998 as een van Jehovah se Getuies gedoop toe hy 11 jaar oud was. Het in 2018 met sy vrou, Anna, getrou. Hulle geniet dit om te reis en om tyd in die natuur te spandeer

Geskiedenis van saak

In Mei 2018, drie maande nadat Artoer en Anna getroud is, het offisiere die paartjie se huis deursoek. Dit was deel van ’n dag wat die Federale Veiligheidsdiens (FSB) “Oordeelsdag” genoem het, en op daardie dag het 150 offisiere ten minste nege huise van Jehovah se Getuies deursoek. Die huis van Artoer se ma, Irina, was ook deursoek. Op 31 Julie 2019 het offisiere van die Federale Veiligheidsdiens in Birobidzjan ’n kriminele saak teen Artoer gemaak vir sogenaamde ekstremistiese bedrywighede. Daar is ook aparte sake teen Anna en Irina gemaak.

Die kriminele sake teen die familie veroorsaak groot finansiële probleme vir hulle. Die owerhede het Artoer gekeer om toegang tot sy bankrekening te kry. Sy baas het ook gedreig om hom by die werk te laat gaan.

As gevolg van die kriminele ondersoek het die familie nie meer ’n normale daaglikse roetine nie. Artoer verduidelik: “Ons normale manier van lewe het heeltemal verander. Dit is moeilik om ons week (of selfs ons dag) te beplan. [Die polisie] roep ons op verskillende tye in wat hulle pas. So as gevolg hiervan moet ons gereeld ons planne vir die dag verander.”

Artoer en Anna is dankbaar vir die ondersteuning van medegelowiges. Artoer vertel: “Die broers moedig ons baie aan en help ons om kalm te wees en na aan Jehovah te bly. . . . Dit is onmoontlik om te beskryf hoe bly ons is om deel van Jehovah se volk te wees en om die eer te hê om Jehovah se naam by hierdie verhore te verdedig! Dit is regtig duidelik dat Jehovah nie dié verlaat wat aan hom behoort nie!”

Die Lochwitski-paartjie is ook versterk en het moedig gebly omdat hulle ’n goeie geestelike roetine behou. Maar dit was nie altyd maklik nie. Dadelik nadat hulle huise deursoek is, verduidelik Artoer: “Ons het nie ’n Bybel of Bybelpublikasies gehad nie.” Aan die begin het dit Artoer bekommer. Hy het gewonder hoe hy en sy gesin by hulle geestelike roetine sou bly. Maar hy het dadelik ’n belangrike waarheid onthou: “[Die FSB] kon nie gebed van ons af wegneem nie. Ons het onmiddellik begin bid. Gebed is presies wat ons nodig gehad het.”

Jehovah het dadelik hulle gebede verhoor en die geestelike voedsel voorsien wat hulle nodig gehad het om weer met hulle geestelike roetine te begin. Artoer sê: “Ons doen ons bes om gereeld gesinsaanbidding te hou, vir die vergaderinge voor te berei en saam as ’n gesin die Bybel te lees. Dit het ons nie net gehelp om nader aan mekaar te kom nie, maar ook om God se hand in ons lewe te sien en om positief te bly.”

Een ding wat hulle baie gehelp het, is om oor toekomstige seëninge na te dink. Artoer sê: “Ons het meer begin dink aan ons hoop vir die toekoms en om onsself in die nuwe wêreld te sien.” Hy voeg by: “Ons wil help om die aarde skoon te maak en om deel te neem aan die bouwerk. Dit versterk ons en moedig ons aan.”

Totdat daardie dag kom, dink Artoer en Anna gereeld aan Hebreërs 13:6, wat sê: “Jehovah is my helper. Ek sal nie bang wees nie. Wat kan ’n mens aan my doen?” Artoer sê: “Al vat hulle ons vryheid weg, al keer hulle ons om met ons broers en susters bymekaar te kom of al keer hulle selfs dat ek en Anna mekaar kan sien, fokus ons op die feit dat hulle nie die belangrikste dinge van ons kan wegneem nie – ons verhouding met Jehovah, gebed en ons hoop vir die toekoms.”

a Kan heel moontlik verander.