Spring na inhoud

24 JULIE 2020
RUSLAND

Broer Dennis Christensen vir ’n tweede keer na ’n spesiale strafblok oorgeplaas

Broer Dennis Christensen vir ’n tweede keer na ’n spesiale strafblok oorgeplaas

Op 15 Julie 2020 is broer Dennis Christensen vir ’n tweede keer na die spesiale strafblok (SHIZO) oorgeplaas. Hy sal tot ten minste 27 Julie daar moet bly. Dit het net vier dae gebeur nadat hy uit die SHIZO gekom het. As hy vir ’n derde keer na die SHIZO gestuur word, kan die tronk hom as ’n “moedswillige oortreder van tronkreëls” verklaar en hom na ’n erger strafblok (EPKT) vir tot ses maande lank stuur. Broer Christensen se regsgeleerdes gaan die nuutste aanklagtes appelleer.

Die owerheid straf broer Christensen omdat hy fisies nie in staat is om sy toegewese werk in die tronk te doen nie. Die tronkowerheid het aangedring dat broer Christensen in die tronk se naaldwerkfabriek moet werk. Maar sy gesondheid het agteruitgegaan vandat hy in die tronk is. Die tronk se dokters gee te kenne dat broer Christensen gesond genoeg is om die werk te doen as hy tyd vat om te rus en te oefen. Maar ’n dokter wat nie vir die tronk werk nie, het broer Christensen op ’n vroeëre geleentheid ondersoek. Die dokter het tot die slotsom gekom dat broer Christensen se gesondheid hom nie toelaat om die toegewese werk te doen nie.

In die SHIZO mag gevangenes nie kos koop, telefoonoproepe maak of ontvang en besoekers of pakkies kry nie. Die wet laat toe dat gevangenes in die SHIZO deur godsdiensbedienaars besoek kan word. Maar broer Christensen kan nie die ouermanne nooi om hom te besoek nie. Dit is omdat Jehovah se Getuies nie meer wetlik geregistreer is as ’n godsdiens in Rusland nie.

Soos in ’n vorige artikel genoem is, het die Lgof-distrikshof op 23 Junie beslis dat broer Christensen vroeg vrygelaat kan word en beveel dat sy oorblywende tronkstraf met ’n boete vervang moet word. Net dae later het die aanklaer hierdie uitspraak geappelleer. Dit lyk asof die tronkamptenare saam met die aanklaer werk om broer Christensen se goeie reputasie te skend en om te keer dat hy vroeg vrygelaat word.

Broer Christensen en sy vrou, Irina, bly positief. Ons word baie aangemoedig om te sien hoe Jehovah altyd sy getroue knegte help om met geduld en vreugde te volhard selfs in die moeilikste tye. – Kolossense 1:11.