Spring na inhoud

Nadat broer Feliks Machammadijef uit ’n tronk in Rusland vrygelaat is, is hy op 21 Januarie 2021 met sy vrou, Jefgenija, by die treinstasie in Oesbekistan verenig

21 JANUARIE 2021
RUSLAND

Broer Feliks Machammadijef uit Russiese tronk vrygelaat en na Oesbekistan gedeporteer

Broer Feliks Machammadijef uit Russiese tronk vrygelaat en na Oesbekistan gedeporteer

Op 31 Desember 2020 is broer Feliks Machammadijef uit ’n tronk in Rusland vrygelaat. Die Beljajefski-distrikshof van die Orenburg-streek het beslis dat hy tydelik in ’n deportasie-sentrum gesit moet word totdat hy die nodige dokumente kon kry om na sy tuisland, Oesbekistan, teruggestuur te word. Die rede hiervoor was omdat Rusland sy burgerskap in April 2020 weggevat het. Op 20 Januarie 2021 het die owerhede hom op ’n trein terug na Oesbekistan gestuur. Ons is bly om julle te laat weet dat Feliks op 21 Januarie 2021 veilig in Oesbekistan aangekom het. Sy vrou, Jefgenija, het twee dae vroeër na Oesbekistan gegaan sodat sy daar kon wees toe hy daar aangekom het.

Feliks het omtrent 18 jaar lank in Rusland gewoon. In 2002, toe hy ’n tiener was, het hy en sy ma van Oesbekistan na Saratof, Rusland, getrek. In 2004, toe hy 19 jaar oud was, is hy gedoop. Hy het in 2011 met Jefgenija getrou.

Op 12 Junie 2018 het gewapende en gemaskerde offisiere van die Federale Veiligheidsdiens (FSB) en die plaaslike polisie die huis van Feliks en Jefgenija deursoek. Feliks is gearresteer en was amper een jaar lank in aanhouding voor sy verhoor. Hy het gereeld tot Jehovah gebid, en dit het hom gehelp om sterk te bly. Hy verduidelik: “Ek het elke dag tot Jehovah gebid dat hy my vrede en vreugde vir daardie dag moet gee.”

Broer Feliks Machammadijef, amper twee weke nadat hy wreed deur tronkbewaarders geslaan is

Op 19 September 2019 is Feliks en vyf ander broers skuldig bevind en tot tronkstraf gevonnis. Nadat Feliks en vier van die ander broers hulle appèlsaak verloor het, is hulle gestuur na ’n tronk in Orenburg, wat meer as 800 kilometer van hulle huise en gesinne in Saratof is. Toe hulle daar aankom, was hulle wreed geslaan.

Gedurende hierdie moeilike tyd het Feliks sy vreugde behou en aanhou glimlag, iets waarvoor hy bekend is. Jefgenija sê: “Ek is so trots op hom! Hy het die hofsaak met waardigheid verduur, en hy hou aan om te volhard. Hy help my selfs om te volhard.”

Hoewel die Russiese regering Feliks wou seermaak en sy geloof wou afbreek, sê hy dat die vervolging eerder sy lojaliteit aan Jehovah sterker gemaak het. Dit herinner ons aan Genesis 50:20, waar Josef vir sy broers gesê het: “Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou hê dat dit ’n goeie uiteinde moet hê.”