Spring na inhoud

Broer Jefgeni Golik buite die hof in Desember 2020

21 JANUARIE 2021
RUSLAND

Broer Jefgeni Golik kry opgeskorte tronkvonnis

Broer Jefgeni Golik kry opgeskorte tronkvonnis

Uitspraak

Op 20 Januarie 2021 het die Birobidzjan-distrikshof van die Joodse selfregerende streek broer Jefgeni Golik skuldig bevind. Hy het ’n opgeskorte tronkvonnis van twee en ’n half jaar gekry. Hy hoef nie op hierdie stadium tronk toe te gaan nie. Hy sal die hof se beslissing appelleer.

Profiel

Jefgeni Golik

  • Gebore: 1975 (Birobidzjan, Joodse selfregerende streek)

  • Agtergrond: Is opgelei as ’n sweiser. Werk as ’n verhittingstegnikus. Het in die Russiese weermag gedien voordat hy een van Jehovah se Getuies geword het

    Het die waarheid by sy ma geleer. Het antwoorde gekry op sy vrae oor die doel van die lewe. Bybelleringe het hom ook gehelp om meer vir ander om te gee

Geskiedenis van saak

In die vroeë oggendure van 17 Mei 2019 het 150 offisiere van die Federale Veiligheidsdiens (FSB) nege huise van die Getuies in Birobidzjan, ’n stad in die Verre Ooste van Rusland, deursoek. Hierdie dag wat die FSB beplan het, was “Oordeelsdag” genoem. Die plaaslike owerhede het kriminele sake teen broer Jefgeni Golik en 21 ander broers en susters van die Joodse selfregerende streek gemaak. Sy kriminele saak het op 29 Januarie 2020 begin.

Die aanklaer het bewyse ingedien wat video’s ingesluit het van Jefgeni wat die Bybel en ’n hele paar van ons Bybelpublikasies studeer het.

Dit is nie maklik om die slagoffer van ’n ernstige ongeregtigheid te wees nie. Maar Jefgeni vertel: “’n Geestelike roetine help my om op Jehovah te fokus en nie op myself nie. En opbouende gedagtes uit God se Woord maak my bly, wat my motiveer om ander oor hierdie gedagtes te vertel.”

Dit het hom baie gehelp om oor Psalm 23:4 na te dink. Jefgeni verduidelik: “[Daardie teks] het my gehelp om moedig te wees en om met vreugde te volhard. Selfs al is ons lewe in gevaar, weet ons dat Jehovah altyd met ons sal wees.”

Jefgeni se mede-aanbidders het hom ook ondersteun. Hy sê: “Die broers en susters het hof toe gekom toe die kriminele saak begin het, wat my baie aangemoedig het. In hierdie moeilike tyd het ek ook ’n helper gehad wat Jehovah my gegee het: my vrou. Ek het die heeltyd vreugde. Ek het geestelike en fisiese kos en oorvloedige ondersteuning.”

Jefgeni is vasbeslote om sy verhouding met Jehovah sterk te hou. Om mense voor te berei wat nog nie op hierdie manier vervolg is nie, sê hy: “Leer [Koninkryks-] liedjies, lei jou hart op om lief te wees vir jou vyande en lei jouself op om in enige situasie ’n vreugdevolle kneg van God te wees.”

Laat ons almal aanhou om waardevolle lesse by ons broers en susters in Rusland te leer. Net soos Jehovah hulle in hulle moeilike tye versterk, sal hy ons ook versterk. – Psalm 29:11.