Spring na inhoud

Broer Joeri Saweljef agter tralies in die hof op 26 Augustus 2020

11 DESEMBER 2020
RUSLAND

Broer Joeri Saweljef, meer as twee jaar in aanhouding, kan tot agt jaar tronkstraf kry

Broer Joeri Saweljef, meer as twee jaar in aanhouding, kan tot agt jaar tronkstraf kry

Datum van uitspraak

Op 16 Desember 2020 a word daar verwag dat die Leninski-distrikshof in Nowosibirsk sy uitspraak sal gee in die saak oor broer Joeri Saweljef. Die aanklaer het gevra dat Joeri tot agt jaar tronkstraf gevonnis moet word. Dit sal die langste tronkstraf wees wat een van ons broers in Rusland sedert die 2017-uitspraak deur die Hooggeregshof kan kry.

Profiel

Joeri Saweljef

  • Gebore: 1954 (Krochaljofka, Nowosibirsk-streek)

  • Agtergrond: Sy ma is oorlede toe hy nog baie klein was. Is deur sy suster grootgemaak. Het as ’n loodgieter by ’n kragsentrale gewerk. Het in godsdiens begin belangstel nadat sy vrou gesterf het. Hy het gesien dat die Bybel logiese antwoorde op sy vrae het. Is in 1996 as een van Jehovah se Getuies gedoop

Geskiedenis van saak

Op 8 November 2018 het die polisie sy woonstel en nege ander huise van Getuies in die Nowosibirsk-streek deursoek. Joeri is gearresteer en in aanhouding voor sy verhoor geplaas.

Joeri is daarvan aangekla dat hy die bedrywighede van Jehovah se Getuies in die stad reël. Sy aanhouding voor sy verhoor is nege keer verleng ten spyte van meer as een appèl vir sy vrylating. Hy is al meer as twee jaar in die tronk. Sedert die 2017-uitspraak deur die Russiese Hooggeregshof is net broer Dennis Christensen en Sergei Klimof langer as broer Saweljef in die tronk.

Joeri het op Woensdag 9 Desember 2020 in sy laaste woorde aan die hof moedig vir die regter gesê: “Ek is aangekla, nie van ’n misdaad nie, maar omdat ek ’n navolger van die godsdiensleringe van Jehovah se Getuies is.

“Ek het geen vyande nie, en in die byna 67 jaar wat ek lewe, is ek nog nooit van ’n misdaad aangekla nie. Ek het besluit om polities neutraal te wees. Met ander woorde, ek is teen enige vorm van geweld, of dit nou mondelings, emosioneel of fisies is.

“God verwag van my om alle mense met respek te behandel, ongeag hulle sosiale status, nasionaliteit of godsdiens.

“God se Woord moedig ons ook aan om die owerhede met respek te behandel. In die brief aan die Romeine in hoofstuk 13 vers 1 tot 3 sê dit: ‘Laat elkeen onderdanig wees aan die hoër owerhede, want daar is geen gesag wat nie van God af kom nie. Die bestaande owerhede is deur God in hulle relatiewe posisies geplaas. Die een wat die owerhede teëstaan, staan dus God se reëling teë.’

“Ek staan nie die owerhede teë nie omdat ek nie God wil teëstaan nie. Dit sal die dood beteken. Dit is net deur middel van Jehovah se Getuies dat ek die enigste ware God en sy seun, Jesus Christus, leer ken het. Danksy hulle is ek oortuig dat die Heilige Skrif, die Bybel, ’n unieke boek is. Dit help ons met alles in ons lewe.”

Dit moedig ons aan om te hoor dat Joeri se geloof sterk is, en ons kan sien dat Jehovah hom met blywende vrede seën. – Jesaja 26:3.

a Kan heel moontlik verander.