Spring na inhoud

23 SEPTEMBER 2020
RUSLAND

Broer Joeri Zalipajef sal dalk vir twee jaar tronk toe gaan in Rusland

Broer Joeri Zalipajef sal dalk vir twee jaar tronk toe gaan in Rusland

Datum van uitspraak

Op 7 Oktober 2020 a word daar verwag dat die Maiski-distrikshof van die Republiek van Kabardino-Balkarië die uitspraak sal gee in die saak van broer Joeri Zalipajef. Hy sal dalk vir twee jaar tronk toe gaan.

Profiel

Joeri Zalipajef

  • Gebore: 1962 (Samara)

  • Agtergrond: Het as ’n sweiser en trokbestuurder gewerk. Hou van gedigte en om op staproetes te gaan

  • Het in 1983 met Natalia, wat saam met hom op skool was, getrou. Het tien jaar later die Bybel saam begin studeer. Hulle het drie kinders. Hulle almal dien Jehovah saam met ’n paar familielede

Geskiedenis van saak

Op 20 Augustus 2016 het die polisie ’n Koninkryksaal in Maiski deursoek en van ons publikasies wat verban is en as “ekstremisties” beskou word, daar gesit. Al het die broers video-opnames wat bewys dat die publikasies deur die polisie daar gesit is, het ’n hof die plaaslike godsdiensorganisasie ’n boete van 200 000 roebel (amper R44 000) vir die sogenaamde oortreding gegee. ’n Paar maande later is ’n kriminele saak teen broer Zalipajef gemaak as gevolg van wat gebeur het.

Die aanklaer beweer dat broer Zalipajef publikasies wat verban is, versprei het en dat hy ander Getuies van Jehovah aangehits het om lede van ander godsdienste seer te maak. Hierdie klagtes word “aanmoediging tot deelname aan ekstremistiese bedrywighede” (Deel 1 van Artikel 280 van Rusland se Strafwet) genoem.

Die verhoor het op 21 Junie 2020 begin. Regdeur die verhoor het die aanklaer se getuies dikwels mekaar weerspreek en gewys dat hulle beskuldigings ongegrond is. Byvoorbeeld, gedurende die verhore het dit uitgekom dat party van die getuies nie eers by die vergaderinge was waar hulle na bewering gehoor het hoe broer Zalipajef ander aangehits het om gewelddadig te wees nie. Party van die aanklaer se getuies het ook getuig dat die publikasies wat verban is en in die Koninkryksaal ontdek is, deur die polisie daar gesit is.

Terwyl broer Zalipajef vir sy uitspraak wag, bid ons dat hy saam met sy familie krag en vrede sal kry uit Dawid se woorde: “Jehovah is my sterkte en my skild. My hart vertrou op hom. Ek het sy hulp ontvang, en my hart is baie bly.” – Psalm 28:7.

a Kan heel moontlik verander