Spring na inhoud

Van links na regs: Broer Roman Markin en Wiktor Trofimof, voordat hulle gearresteer is

17 JANUARIE 2020
RUSLAND

Broer Markin en Trofimof kan dalk tot ses en ’n half jaar tronkstraf gevonnis word

Broer Markin en Trofimof kan dalk tot ses en ’n half jaar tronkstraf gevonnis word

Daar word verwag dat ’n beslissing op 22 Januarie 2020 gelewer sal word in die saak teen broer Roman Markin en broer Wiktor Trofimof. Die aanklaer het versoek dat die hof hulle tot ses en ’n half jaar tronkstraf vonnis.

Die broers se vervolging het op 18 April 2018 begin, toe gewapende en gemaskerde spesiale magte hulle huise in die Russiese stad Poljarni deursoek het. Die polisie het laat in die nag by broer Markin se huis opgedaag en sy deur afgebreek. Hulle het broer Markin met gewere gedreig en hom gedwing om op die vloer te lê terwyl hulle sy huis deursoek het. Broer Markin se 16-jarige dogter, wat by die huis was toe dit gebeur het, het ook op die vloer gaan lê en haar kop met haar arms bedek.

Vier ander huise van Getuies was ook daardie nag in Poljarni deursoek. Die polisie het meer as 12 broers en susters, insluitende broer Markin en Trofimof, na die polisiestasie geneem om ondervra te word. Daarna het die Poljarni-distrikshof van Moermansk beslis dat broer Markin en Trofimof in aanhouding moet bly tot hulle verhoor. Die broers was amper ses maande lank in aanhouding, en daarna was hulle vier maande lank onder huisarres. Op 7 Februarie 2019 het die hof hulle vrygelaat van huisarres, maar hulle reis en kommunikasie word nog steeds beperk totdat die hof sy beslissing gee.

Daar is amper 300 Getuies in Rusland wat krimineel aangekla word. Ons bid dat hulle almal moedig en sterk sal bly, en ons is oortuig daarvan dat niks hulle van Jehovah se liefde sal skei nie. – Romeine 8:38, 39.