Spring na inhoud

Broer Roman Baranofski en sy ma, suster Walentina Baranofskaja

29 JANUARIE 2021
RUSLAND

Broer Roman Baranofski en sy ma, suster Walentina Baranofskaja, kan skuldig bevind word in Rusland

Broer Roman Baranofski en sy ma, suster Walentina Baranofskaja, kan skuldig bevind word in Rusland

Datum van uitspraak

Daar word verwag dat die Abakan-stadshof van die Republiek Chakassië op 1 Februarie 2021 a sy uitspraak sal gee in die saak teen broer Roman Baranofski en sy ma, suster Walentina Baranofskaja. Die aanklaer het nog nie ’n spesifieke vonnis aangevra nie.

Profiele

Roman Baranofski

  • Gebore: 1974 (Balakowo, Saratof-streek)

  • Agtergrond: Onderhou homself en sy ma deur huise op te knap. Geniet dit om kitaar, skaak en sokker te speel

    Hy het as ’n tiener gewonder oor die doel van die lewe. Hy onthou: “Soms het ek God gevra om my te wys wat die doel van die lewe is.” Het in 1993 die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Is in 1997 gedoop

Walentina Baranofskaja

  • Gebore: 1951 (Wannofka, Kazakstan)

  • Agtergrond: Het as ’n rekenmeester en ’n finansiële beplanner gewerk totdat sy in 2006 afgetree het. Geniet dit om te kook en om liedjies en gedigte te skryf

    Het in 1995 saam met haar seun die Bybel gestudeer saam met Jehovah se Getuies. Was veral beïndruk toe sy leer dat God nie kan lieg nie. Is in 1996 gedoop

Geskiedenis van saak

Op die aand van 10 April 2019 het gewapende polisiemanne vier huise in Abakan deursoek, insluitende die huis van Broer Roman Baranofski en sy ma, Walentina. Die polisie het hulle Bybels, elektroniese toestelle en persoonlike dokumente afgevat. ’n Kriminele saak is teen Roman en Walentina gemaak.

Roman verduidelik: “Toe die polisie ons huis deursoek het, was ons by die Lewe en Bediening-vergadering, en ons het toe net 1 Korintiërs 10:13 bespreek. Hierdie vers leer ons iets belangriks. Jehovah besluit nie watter versoeking ons sal verduur nie . . . Hy dink nie by homself: ‘Jy is sterk, so jy kan hierdie versoeking verduur. Maar jy is swakker, so hier is ’n makliker versoeking’ nie. As dit die geval was, sou alles van ons eie krag afhang. Maar verskillende versoekings kan met enigiemand gebeur. As ons op Jehovah se krag vertrou, kan ons almal volhard.”

In Julie 2020 het Walentina ’n beroerte gehad. Sy sê: “Toe my gesondheid erger geword het, het dit vir my selfs duideliker geword dat Jehovah my help. Dit is omdat ek nooit ophou bid het nie, en dit het gevoel asof hy my in sy arms neem. Ek het sulke vrede en kalmte gevoel dat ek dit nie in woorde kan beskryf nie.”

Al hierdie ondervindinge het Walentina tot ’n kragtige gevolgtrekking laat kom: “Ek is vasbeslote om ons Vader vir ewig te dien en om getrou aan hom te bly, maak nie saak wat in my lewe gebeur nie.”

Roman sê dat dit sy geloof sterker gemaak het omdat hy nagedink het oor die voorbeelde van volharding in die Bybel en in moderne tye. Wanneer hy oor sulke voorbeelde nadink, vra hy homself dikwels: ‘Wat het hulle verduur, en hoekom? Wat het hulle gehelp om getrou te bly? Hoe het Jehovah hulle deur middel van sy gees ondersteun?’ Die antwoorde op hierdie vrae het Roman verder verseker dat Jehovah hom bomenslike krag sal gee as dit nodig is, maak nie saak watter versoeking hy deurgaan nie.

Ons bid dat Roman, Walentina en al ons liewe broers en susters in Rusland sal aanhou om te vertrou dat Jehovah hulle skuilplek en sterkte sal wees. – Psalm 46:1.

a Kan heel moontlik verander.