20 NOVEMBER 2020
RUSLAND
Broer Sergei Ledenjof sal dalk vir ses jaar tronk toe gaan in Rusland
Datum van uitspraak
Op 24 November 2020 a sal die stadshof van Petropawlofsk-Kamtsjatski in die Kamtsjatka-gebied sy uitspraak gee in die saak van broer Sergei Ledenjof. Hy kan dalk ses jaar tronkstraf kry.
Profiel
Sergei Ledenjof
Gebore: 1974 (Ossora, Kamtsjatka-gebied)
Agtergrond: Een van ses kinders. Hou van teken en fotografie. Werk in konstruksie as ’n messelaar en lê teëls. Het die Bybel as ’n ou boek en onwetenskaplik beskou totdat hy dit saam met Jehovah se Getuies begin studeer het. Het in 2017 met sy vrou, Anna, getrou. Anna sê dat Sergei nou ’n kalm en liefdevolle man is omdat hy Bybelwaarhede in sy lewe toepas
Geskiedenis van saak
Op 2 Desember 2018 het ’n groep gewapende en gemaskerde polisiemanne broer Ledenjof se huis in Petropawlofsk-Kamtsjatski deursoek. Hy is aangehou en aangekla onder Artikel 282.2 van die Russiese Strafwet. Die kriminele verhoor het op 28 November 2019 begin.
Op 12 Desember 2019 het die stadshof van Petropawlofsk-Kamtsjatski in die Kamtsjatka-gebied die saak na die aanklaer teruggestuur. Dit gebeur gewoonlik wanneer die hof voel dat daar ernstige probleme met die aanklagte is, soos te min bewyse. Maar op 4 Februarie 2020 het ’n hoër hof die uitspraak verander en die verhoor voortgesit. In ’n verhoor daarna het die owerheid broer Ledenjof se vrou en ’n ander suster ondervra en hulle probeer dwing om valslik teen broer Ledenjof te getuig. Suster Ledenjof en die ander suster het die heeltyd geweier om dit te doen.
Broer Ledenjof se familie wat nie Getuies is nie, kan nie verstaan hoekom hy vir sy geloof vervolg word nie.
Ons bid vir broer en suster Ledenjof terwyl hulle vir die uitspraak wag. Ons weet dat hulle beslis Jehovah se gees het. – 1 Petrus 4:14.
a Kan heel moontlik verander.