Spring na inhoud

Links na regs: Broer Nikolai Polewodof en Stanislaf Kim buite die hof in Oktober 2019

31 JANUARIE 2020
RUSLAND

Broer Stanislaf Kim en Nikolai Polewodof word albei aangekla in twee Russiese howe, eerste uitspraak op 4 Februarie 2020 verwag

Broer Stanislaf Kim en Nikolai Polewodof word albei aangekla in twee Russiese howe, eerste uitspraak op 4 Februarie 2020 verwag

Op 4 Februarie 2020 word daar verwag dat die Zjeleznodorozjni-hof in die Russiese stad Chabarowsk sy uitspraak sal gee in die hofsaak waarby broer Stanislaf Kim en Nikolai Polewodof betrokke is. Die aanklaer het daarop aangedring dat albei broers tot drie jaar tronkstraf gevonnis moet word en na ’n tronk vir misdadigers gestuur moet word. Maar albei broers is ook betrokke by ’n tweede kriminele saak wat in die arbeidshof in dieselfde stad verhoor sal word.

Broer Kim en Polewodof is op 10 November 2018 gearresteer. Op daardie dag het meer as 50 broers en susters van Chabarowsk saam gekuier in ’n gehuurde saal. Dit was nie ’n godsdienstige vergadering nie. Terwyl hulle nog daar was, het baie polisiemanne en lede van die stad se Ondersoekkomitee by die plek ingestorm en almal wat daar was, gearresteer. Broer Kim en Polewodof saam met broer Witali Zjoek is meer as twee maande voor hulle verhoor aangehou en is ’n hele paar maande daarna onder huisarres gesit.

Die uitspraak op 4 Februarie het te doen met ’n saak teen broer Kim en Polewodof, wat aangekla word vir hulle deelname aan die samekoms. Maar die owerheid het ook ’n kriminele saak gemaak teen broer Kim, Polewodof en Zjoek sowel as drie susters wat ook by die samekoms was. In hierdie saak word broer Kim en Polewodof daarvan aangekla dat hulle die samekoms gereël het. Die datum vir die uitspraak in daardie saak is nog nie bekend nie.

Broer Kim en Polewodof is in ’n unieke situasie omdat hulle tegelykertyd van ’n misdaad aangekla word in twee verskillende hofsake. Die aanklaers het gekies om nie die sake te kombineer nie, en daarom moet broer Kim en Polewodof twee hofsake in verskillende howe van Chabarowsk bywoon.

Albei broers is getroud en is pa’s met kinders. Ons weet dat Jehovah sal aanhou om ons dierbare broers en hulle families heilige gees te gee om hulle harte en hulle verstande te beskerm wat hulle sal help om getrou te bly gedurende hierdie moeilike tyd. – Filippense 4:7.