Spring na inhoud

14 OKTOBER 2019
RUSLAND

Broer Waleri Moskalenko se laaste woorde aan die hof

Broer Waleri Moskalenko se laaste woorde aan die hof

Op Vrydag 30 Augustus 2019 het broer Waleri Moskalenko voor die hof gepraat. Hier volg ’n gedeelte van wat hy gesê het (vertaal uit Russies):

U Edele en almal hier vandag, ek is 52 jaar oud en die afgelope jaar was ek in aanhouding. Om presies te wees, dit is nou al meer as ’n jaar.

In my laaste woorde aan die hof, wil ek julle kortliks vertel van myself, hoe ek die kriminele klagtes beskou en wat my persoonlike beskouing van die lewe is. Ek hoop regtig dat u, U Edele, sal verstaan hoekom ek nie my geloof in God sal opgee en hoekom geloof in God nie ’n misdaad is nie.

Ek was nie altyd een van Jehovah se Getuies nie. My ouers was goeie mense en het my goed grootgemaak, maar selfs as ’n kind het dit my gepla dat daar soveel ongeregtigheid oral is. Ek het gedink: ‘Dit is nie hoe dit moet wees nie – dat dit goed gaan met slegte en oneerlike mense terwyl eerlike en goeie mense swaarkry.’

Toe ek 24 jaar oud was, het ek antwoorde op my vrae gekry nadat ek die Bybel ’n hele paar maande ernstig gestudeer het.

Van daardie tyd af voordat ek ’n besluit maak, probeer ek dink oor hoe dit God sal laat voel en oor wat sy wette en beginsels is. Dit word in detail [in die Bybel] beskryf, en jy kan meer hieroor leer deur te kyk na die voorbeeld van mense wat God in die verlede aanbid het.

Ek woon saam met my ma in ’n woonstel. Sy is oud en het my hulp nodig. Op 1 Augustus 2018, toe my ma alleen by die huis was, het die speurder van die Federale Veiligheidsdiens (FSB) die spesiale eenheid beveel om deur die skarniere van die voordeur te saag. Dit is hoe die speurder beplan het om by my woonstel in te kom om dit te deursoek.

My ma was baie bang. Nadat die gemaskerde spesiale eenheid by die woonstel ingestorm het, het my ma ’n hartaanval gekry en moes die ambulans kom. Toe ek hoor dat die polisie in my woonstel is, het ek 30 minute later daar aangekom. Toe ek sien in watter toestand my ma is, het my bloeddruk die hoogte ingeskiet. Tog het ek nie kwaad geword nie en het ek probeer om rustig te bly. Ek was vriendelik, soos ’n Christen moet wees. Dit is wat my God, Jehovah, my geleer het, en ek wil hom nie teleurstel nie.

Ek is jammer, u Edele, ek praat nie gewoonlik so baie oor myself nie. Ek doen dit nie normaalweg nie, maar nou moet ek.

Ek is al meer as 25 jaar een van Jehovah se Getuies. Dit is ’n groot gedeelte van my lewe. En hierdie hele tyd is ek nooit as ’n ekstremis beskou nie. Ek staan eerder bekend as ’n goeie buurman, ’n harde werker en ’n liefdevolle seun.

Skielik, vanaf 20 April 2017, word ek ’n ekstremis genoem. Op grond waarvan? Wat het verander? Het ek slegter geword? Nee. Het ek gewelddadig geword of iemand seergemaak of hulle laat swaarkry? Nee. Het ek die reg verloor om gebruik te maak van Artikel 28 van die Russiese Grondwet? Ook nee. My naam is nie genoem in die uitspraak van die Hooggeregshof nie. Niemand het my reg weggeneem om gebruik te maak van die Grondwet van die Russiese Federasie, veral Artikel 28, nie. So hoekom moet ek my hier in ’n hof verdedig?

Uit my gesprekke met die speurder het dit vir my nog duideliker geword dat ek gearresteer en in aanhouding gesit is omdat ek in die naam van die Almagtige God, Jehovah, glo en dit gebruik in my gebede en wanneer ek praat. Maar dit is nie ’n misdaad nie. God self het sy naam gekies en het seker gemaak dat dit in die Bybel opgeteken is.

Ek herhaal weer. Ek kan my nie indink dat ek teen God se wil sal gaan wat duidelik in die Bybel staan nie. En dit maak nie saak hoe ek onder druk geplaas en gestraf word nie – al kry ek selfs die doodstraf - selfs dan sal ek nie die almagtige Skepper van die heelal, Jehovah God, verlaat nie.

U Edele, Jehovah se Getuies staan wêreldwyd bekend as vriendelike en vredeliewende mense. Hulle word in die meeste lande toegelaat om vryelik te aanbid. Ek wil baie graag hê dat almal, insluitende ek, ook vryelik in Rusland kan aanbid.

Ek is nie skuldig van die misdaad waarvan ek beskuldig word nie, en ek vra die hof om my onskuldig te verklaar!

Dankie!