Spring na inhoud

Links na regs: Broer Aleksei Boedentjoek, Aleksei Miretski, Feliks Machammadijef, Gennadi German en Roman Gridasof

24 FEBRUARIE 2020
RUSLAND

Broers help ander Getuies wat in Russiese tronk geslaan is

Broers help ander Getuies wat in Russiese tronk geslaan is

Nadat daar berig is dat vyf broers wat in Orenburg, Rusland, in die tronk is, wreed geslaan is, het die broers in hierdie stad hulle onmiddellik in die tronk gaan besoek om hulle te ondersteun. Die broers wat in die tronk is, Aleksei Boedentjoek, Gennadi German, Roman Gridasof, Feliks Machammadijef en Aleksei Miretski is van Saratof, wat meer as 800 km van Orenburg af is.

Broer Feliks Machammadijef wat glimlag, amper twee weke nadat hy wreed deur die tronkbewaarders geslaan is. Hy dra ’n baadjie om sy wonde weg te steek.

Op 15 Februarie 2020 het nuusberigte aanlyn gewys dat tronkbewaarders van Strafkolonie Nr. 1 in Orenburg, knuppels gebruik het om die vyf broers van Saratof te slaan. Nadat hulle die berigte gelees het, het ’n groep broers en susters van Orenburg na die strafkolonie toe gegaan. Hulle het moedig hulleself as Jehovah se Getuies geïdentifiseer en hulle eie vryheid in gevaar gestel. Die groep het die beamptes wat aan diens was, gevra om vir hulle inligting te gee oor hoe erg die vyf broers beseer is. Omdat die nuusberigte gesê het dat broer Machammadijef die ergste beserings opgedoen het en hospitaal toe moes gaan, wou die broers van Orenburg weet of hy nog lewendig was of nie. Hulle gesprek met die beamptes was amper twee ure lank.

Die broers in Orenburg het ook gereël dat daar ’n groep sal wees wat sal aanhou om die broers wat in die tronk is, hulle vrouens asook hulle regsverteenwoordigers te ondersteun. Die broers in Orenburg skryf gereeld aanmoedigende briewe vir die broers in die strafkolonie. Hulle het ook geld bygedra om die broers te help om gesonder kos te koop, wat nie in die tronk beskikbaar is nie.

Die liefdevolle selfopofferende gees van die broers en susters het ’n kragtige getuienis aan die werkers by die strafkolonie gegee. Hulle sien hoe baie Jehovah se Getuies vir hulle mede-aanbidders omgee – selfs dié wat honderde kilometers ver bly en wat hulle nog nooit ontmoet het nie.

Dit is aanmoedigend om te hoor dat ons broers die Bybel se raad volg in Hebreërs 13:3: “Dink aan dié wat in die tronk is asof julle saam met hulle daar is, en aan dié wat sleg behandel word, aangesien julle self nog ook in die liggaam is.”