Spring na inhoud

Die streekhof in Oriol

14 MEI 2019
RUSLAND

Christensen se appèlverhoor eindig binnekort

Christensen se appèlverhoor eindig binnekort

Op Dinsdag 7 Mei 2019 het Dennis Christensen se appèlverhoor by die Oriol-streekhof begin. Hy appelleer die tronkstraf van ses jaar wat hy ontvang het omdat hy sy geloof beoefen. Tot dusver het hierdie hof dieselfde patroon gevolg van die ander Russiese howe. Hulle weier om na die bewyse te kyk wat volgens Dennis se regsgeleerdes duidelik wys dat hy onskuldig is. Die paneel van drie regters sal moontlik hulle beslissing in die appèlsaak teen die einde van hierdie week lewer.

Op die eerste dag van die verhoor het baie broers en susters na die hof gekom om Dennis te ondersteun. Daar was ook diplomate van verskeie lande, joernaliste en voorstanders van menseregte. Die verhoor was in ’n klein kamer gehou met net genoeg plek vir 20 tot 25 mense en omtrent 50 moes buite wag. Maar die hof het ’n versoek van Dennis se regsgeleerdes toegestaan om die verhoor na ’n groter plek te skuif sodat daar genoeg plek vir amper 80 mense was. Die hof het na drie ure verdaag.

Op die tweede dag van die verhoor het die regters Dennis se regsgeleerdes se versoek afgekeur om weer deur ’n groot hoeveelheid van die bewyse van Dennis se onskuld te gaan. Dit is ’n jammerte, want Dennis se regsgeleerdes is oortuig dat die bewyse sal toon dat die oorspronklike beslissing onregverdig was. Aan die einde van die dag het die hof gesê dat die verhoor op Donderdag 16 Mei verder sal gaan en met finale verklarings sal begin.

Ons hou aan bid dat ons broers en susters in Rusland nie net hulle innerlike vrede sal behou nie, maar ook hulle sterk geloof in Jehovah se belofte dat hy hulle uiteindelik sal red van almal wat hulle verag. – Psalm 12:5.