Spring na inhoud

25 MEI 2020
RUSLAND

Dennis Christensen, nou al drie jaar in die tronk in Rusland, bly getrou en vreugdevol

Dennis Christensen, nou al drie jaar in die tronk in Rusland, bly getrou en vreugdevol

Tot en met vandag is broer Christensen al drie jaar lank onregverdig in die tronk in Rusland. Vandat broer Christensen op 25 Mei 2017 gearresteer is, het party vriende hom gevra watter uitwerking hierdie moeilike uitdaging op sy geloof gehad het. Sy antwoord het dieselfde gebly: “My geloof het net sterker geword.”

Broer Christensen sê: “Ek het ondervind wat in die Bybelboek Jakobus hoofstuk 1 vers 2 en 3 geskryf staan: ‘My broers, julle moet baie bly wees wanneer julle deur allerhande moeilike tye gaan, want julle weet dat julle geloof tot volharding lei wanneer dit getoets is.’”

Dit is ongelooflik dat broer Christensen se geloof sterker geword het en dat hy selfs vreugdevoller is ten spyte van die feit dat hy al hoe meer probleme het.

Onmiddellik nadat broer Christensen gearresteer is, is hy in ’n detensie-fasiliteit aangehou wat nie ver van sy huis in Oriol is nie. Mettertyd het sy vrou, Irina, toestemming gekry om hom te besoek. Broer Christensen het meer as twee jaar lank in aanhouding gebly voor sy verhoor. In Februarie 2019 is broer Christensen tot ses jaar tronkstraf gevonnis. Drie maande later is sy appèl verwerp. Daarna is hy oorgeplaas na ’n tronk wat sowat 200 kilometer van Oriol is, wat beteken dat hy nog verder van Irina af is.

Dit is nou al amper ’n jaar dat broer Christensen kwalifiseer om aansoek te doen sodat hy vroeg vrygelaat kan word. Drie van sy vier aansoeke is verwerp. Ten spyte van al hierdie dinge bly broer Christensen standvastig.

Broer Christensen erken nederig: “Ek en Irina is ver van volmaak, maar ons het geleer om te volhard en om ons vreugde in moeilike tye te behou. En die belangrikste van alles is dat ons selfs nader aan ons God en Vader, Jehovah, gekom het.”

Ons bid en vertrou ten volle dat Jehovah sal aanhou om ons liewe broers en susters in Rusland te help om met vreugde te volhard gedurende vervolging. – Matteus 5:11, 12.