Spring na inhoud

Die Oriol-streekhof

11 JUNIE 2019
RUSLAND

Dennis Christensen se woorde aan die hof op 23 Mei

Dennis Christensen se woorde aan die hof op 23 Mei

Gedurende sy appèlverhoor op Donderdag 23 Mei 2019 is Dennis toegelaat om ’n laaste keer voor die hof te praat. Hier volg sy woorde wat uit Russies vertaal is:

Ek wil nou graag vir almal dankie sê wat my gedurende die afgelope twee jaar van hierdie kriminele saak gehelp en ondersteun het.

Ek wil eerste vir my vrou, Irina, dankie sê wat van die begin af alles moontlik gedoen het om my te help en te ondersteun. Sy het na my gekyk en vir my klere, kos, medisyne en ander dinge gebring wat ek nodig gehad het terwyl ek in aanhouding was. Sy het my emosioneel en geestelik ondersteun wanneer sy my besoek het en deur haar briewe, wat ek elke dag gekry het.

My liewe vrou, jou sterk geloof, jou groot geduld, jou kalmte, jou liefde vir my en die waarheid en jou positiewe uitkyk – al hierdie dinge is ’n goeie voorbeeld vir my. Ek wil vir jou sê dat ek baie lief is vir jou en baie trots is op jou!

Ek wil ook vir my familie in Denemarke dankie sê, veral vir my bejaarde pa en my suster. Ek mis julle verskriklik baie. Ek is lief vir julle en waardeer alles wat julle vir my gedoen het. Gedurende my aanhouding het julle my met julle baie briewe en telefoonoproepe ondersteun. Ek is seker dat julle nooit sal moed opgee nie en dat julle nooit die hoop sal verloor dat ons eendag weer saam as ’n familie sal wees nie.

Ek wil ook vir al my vriende regoor die wêreld dankie sê. Julle het my ondersteun met julle briewe, aanmoedigende woorde, mooi prente en geskenke. Dit alles het my gehelp om te besef dat ek nie alleen is nie en dat ek deel is van ’n groot internasionale familie.

Liewe vriende, ek wil vir julle sê dat elke brief, kort of lank, my aangemoedig en versterk het. Moet asseblief nie teleurgesteld wees as ek nie kan terugskryf nie. Ek belowe dat ek julle in die toekoms sal soek, vir julle dankie sal sê en ’n drukkie sal gee!

Ek wil ook vir die Deense Ambassade in Moskou en al die mense wat daar werk, dankie sê. Julle het baie van my verhore bygewoon en my baie keer gedurende my aanhouding kom besoek. Julle goeie raad en aanmoediging het baie vir my beteken. Ek waardeer die ondersteuning en hulp wat julle vir my gegee het.

Ek wil ook dankie sê vir die appèlhof dat julle my toegelaat het om die verhore by te woon. Op die kere wat ek vanaf die detensie-sentrum ingeluister het na die appèlverhore, kon ek nie alles hoor wat gesê is nie. Die helfte van die tyd kon ek nie uitmaak wat hulle sê nie. Dit het dit vir my moeilik gemaak om myself te verdedig. Behalwe dit, wanneer jy vanaf ’n detensie-sentrum na ’n verhoor inluister, sit jy agter tralies soos ’n dier in ’n dieretuin. Ek beskou dit as verkeerd en onmenslik veral in die tyd waarin ons lewe.

Ek is nou al amper twee jaar lank in aanhouding, en hierdie hofsaak is nou alreeds 15 maande lank aan die gang. Iemand wat in hierdie situasie is, moet innerlike krag hê om nie moed op te gee nie en om te volhard. Die Bybel sê in Filippense hoofstuk 4 vers 13: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.” a In die boek Jesaja hoofstuk 12 vers 2 sê dit: “Kyk! God is my redding. Ek sal vertrou en nie in angs verkeer nie; want Jah Jehovah is my sterkte en my mag, en hy het my redding geword.”

Gedurende hierdie tyd het ek gevoel dat my God Jehovah aan my kant is. Hy het my die krag gegee om dit alles te verduur – die krag om nie moed op te gee nie, om nie mismoedig te word nie, om gelukkig te wees en om aan te hou glimlag. Ek is regtig dankbaar hiervoor, en ek is trots om hom te dien as een van sy getuies – een van Jehovah se Getuies.

Baie mense het my al gevra hoe hierdie kriminele saak my geraak het. Dit is natuurlik nie maklik om vir so lank in aanhouding te wees nie. Ek is afgesny van my vrou en van my familie en vriende. Vir die afgelope twee jaar voel ek baie alleen. ’n Mens kan sê dat ek net bestaan het. Ek was 23 uit die 24 uur per dag in my tronksel wat 3 meter by 6 meter is. Ek was een uur per dag toegelaat om in ’n spasie buitekant, wat ook 3 meter by 6 meter was, te loop. Gedurende hierdie tyd het ek verskillende mense ontmoet en baie interessante gesprekke gehad. En ek het agtergekom dat baie van hulle probeer om ’n behoorlike en regverdige ondersoek en verhoor te kry. Die meeste van hulle voel dat niemand na hulle luister nie, en gedurende die afgelope twee jaar voel ek presies dieselfde. Ek het my bes probeer om hulle te ondersteun en aan te moedig, want ek is seker Jesus Christus sou dieselfde doen.

Ek het baie nuwe vriende gemaak. Party van hulle het ’n paar van my verhore bygewoon en ander het vir my geskryf. Ek ken party van hulle persoonlik, maar nog nie almal van hulle nie. Party van hulle het dieselfde geloofsoortuigings, maar nie almal nie. Maar hulle ondersteun my in elk geval omdat hulle nie die onregverdigheid hier in Rusland kan hanteer nie. Jehovah se Getuies is vreedsame inwoners wat hulle naaste liefhet soos hulleself, maar party sê dat hulle misdadigers en ekstremiste is. Dit is heeltemal belaglik en maak nie sin nie. Baie is geskok dat hierdie dinge in ons tyd in Rusland gebeur.

Mense het my al gevra of my geloof swakker geword het as gevolg van hierdie kriminele saak. Maar hierdie kriminele saak het my geloof net sterker gemaak en ek ondervind wat die Bybel in die brief Jakobus hoofstuk 1 vers 2 tot 4 sê: “Ag dit louter vreugde, my broers, wanneer julle allerhande beproewinge teëkom, aangesien julle weet dat hierdie beproefde hoedanigheid van julle geloof volharding bewerk. Maar laat die volharding sy werk voltooi, sodat julle volkome en in alle opsigte sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.”

Ek is definitief nie volmaak nie, maar ek het geleer om te volhard en om bly te wees al gaan ek deur moeilike tye. En nog belangriker, dit het my selfs nader aan my God Jehovah gebring. Ek het nou selfs ’n groter begeerte om ander van hom en sy wil te vertel. Ek het ’n groter begeerte om aan te hou om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig, wat die enigste oplossing vir die mens se probleme is. Ek het ’n groter begeerte om vir ander oor die goeie nuus in die Bybel van vrede en ewige lewe in die Paradys op aarde te vertel. Ek wil hulle help om nader aan die Skepper te kom en om sterk geloof in hom en sy beloftes te ontwikkel.

Dit word amptelik die “Laaste woorde van ’n persoon se verdediging” genoem, en dalk is dit my laaste woorde vandag. Dalk is dit die laaste verhoor in hierdie kriminele saak en sal dit die einde van hierdie twee jaar-periode van my lewe wees. Maar ek wil julle verseker dat dit nie my laaste woorde oor hierdie saak is of oor die onregverdigheid wat hier in Rusland teen vreedsame en heeltemal onskuldige mense gebeur nie. Dis net die begin en ek het nog baie om vir die wêreld te sê. Ek sal nie stilbly nie, want ek is nie skuldig nie en ek het niks om weg te steek nie. Ek het ’n skoon gewete – ek het niks verkeerd gedoen het. Ek het nie een Russiese wet gebreek nie, en ek het niks om voor skaam te wees nie.

Dit is die mense wat vir my en ander Jehovah se Getuies hier in Rusland mishandel, wat skaam moet voel. Hulle beskuldig ons valslik dat ons ekstremisties is, hulle ondervra ons, arresteer ons, deursoek ons huise, vat ons besittings af, ondersoek ons, dreig ons en nou martel hulle ons selfs. Dit is skandelik. Die waarheid kom altyd uit en vroeër of later sal daar geregtigheid wees. In die Bybel in Galasiërs hoofstuk 6 vers 7 sê dit: “Moenie mislei word nie: God laat hom nie bespot nie. Want wat ’n mens saai, dit sal hy ook maai.”

Die hof het my tot ses jaar tronkstraf gevonnis, maar hoekom? Vir geen rede nie! Daar is geen bewyse dat ek enigiets verkeerd gedoen het nie. Eintlik is daar baie bewyse dat ek volgens Artikel 28 van die Grondwet van die Russiese Federasie die reg gehad het om te doen wat ek gedoen het. Ek is gehoorsaam aan die wette van die Russiese regering, en ek is ’n eerlike mens. Ek is ’n Christen, ’n gelowige mens, een van Jehovah se Getuies en ek is lief vir die mense van Rusland. Hoekom word ek gestraf? Hoekom word ek vir ses jaar tronk toe gestuur? Vir niks nie. Dis onregverdig.

Ek hoop regtig dat die appèlhof vandag vir die wet sal veg en seker sal maak dat daar geregtigheid sal wees. Ek hoop dat hierdie hof ’n einde sal maak aan die godsdiensvervolging hier in Rusland. Ek hoop regtig dat hierdie appèlhof vir die hele wêreld sal wys dat daar godsdiensvryheid vir almal hier in Rusland is.

Binnekort sal die woorde hier in Miga hoofstuk 4 vers 3 en 4 waar word: “Hy sal beslis oordeel tussen baie volke . . . Hulle sal van hulle swaarde ploegskare moet smee en van hulle spiese snoeimesse. Hulle sal nie, nasie teen nasie, die swaard ophef nie, en ook sal hulle nie meer leer om oorlog te voer nie. En hulle sal elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom sit, en daar sal niemand wees wat hulle laat bewe nie.”

God se oordeel is altyd regverdig, en daar sal nie meer stryery, geweld of oorloë wees wanneer hy regeer nie. Daar sal eerder vrede wees, en daar sal nie meer probleme wees nie. Met ander woorde, alle mens sal regtig gelukkig wees.

U Edele, deur middel van u beslissing vandag, kan u ’n groot stap in daardie rigting neem. In die rigting van geregtigheid en vrede, in die rigting van ’n wêreld sonder vrees, hartseer en onregverdigheid. En ek hoop dat u hierdie stap sal neem. By voorbaat dankie!

a Dennis het uit die Russiese sinodale vertaling aangehaal. Maar in hierdie artikel word al die tekste uit die hersiene Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif aangehaal.