Spring na inhoud

Van links na regs: Broer Iwan Poeida agter tralies in die hof, sy pa, broer Grigori Poeida, en sy oupa, broer Pjotr Partsei

14 OKTOBER 2020
RUSLAND

Drie generasies van getroue diens ondanks vervolging deur die regering

Drie generasies van getroue diens ondanks vervolging deur die regering

Broer Iwan Poeida bly moedig al word hy op die oomblik van ’n misdaad aangekla. Hy word versterk deur die voorbeeld van sy pa en oupa wat getrou gebly het aan Jehovah

Broer Iwan Poeida het goeie herinneringe van hoe sy pa in die aande huis toe gekom het en My boek met Bybelverhale vir hom en sy ses broers en een suster gelees het. Hy kan baie goed onthou hoe hy saam met sy pa, Grigori, in hulle klein dorpie Kwitok gepreek het. Hulle het gereeld die huise van sy onderwysers en klasmaats besoek. As ’n tiener het broer Poeida saam met sy oupa aan sy ma se kant, broer Pjotr Partsei, in ontoegekende gebied velddiens gedoen. Daar het hy sy oupa se ywer vir die bediening en selfopofferende gees gesien.

Broer Poeida het gereeld gesien hoe sy pa en oupa die Bybel en publikasies oor die Bybel lees. Dit was sy doelwit om hulle voorbeeld te volg.

Maar broer Poeida, wat nou 41 jaar oud is, volg hulle voorbeeld op ’n onverwagte manier. Hy is gearresteer en in die tronk gesit omdat hy Jehovah dien. Op 30 Mei 2018 het agente van die Federale Veiligheidsdiens (FSB) broer Poeida gearresteer. Hy was vier maande lank in die tronk. Nadat hy vrygelaat is, was hy nog ses maande onder huisarres geplaas. Sy oupa, broer Partsei, was gearresteer en is deur albei die Nazi- en Sowjet-regering tronk toe gestuur. Sy pa, broer Grigori Poeida, is ook deur die Sowjetunie tronk toe gestuur.

Broer Iwan Poeida sê: “Die apostel Paulus het in 2 Timoteus 3:14 geskryf: ‘Jy moet bly by die dinge wat jy geleer het en wat jy oortuig is om te glo, want jy weet by wie jy dit geleer het.’ Dit het my sterker gemaak omdat ek die mense geken het wat my die waarheid geleer het. Nie die regering of die tronk kon hulle keer om Jehovah te dien nie, en vervolging hou nie vir ewig aan nie. Nou lewe ek op die manier wat hulle my geleer het, en ek sal hulle voorbeeld volg. Solank as wat ek getrou aan Jehovah bly, weet ek dat hy my sal help.” Broer Poeida wag vir die hof se uitspraak in sy saak.

Hy het gesê dat wanneer sy pa en oupa hom oor die tronk vertel het, hulle nooit gepraat het oor hoe moeilik die lewe in die tronk was nie. Hulle het eerder gepraat oor hulle ondervindinge wanneer hulle die goeie nuus verkondig het.

Grigori, wat nou 64 jaar oud is, is in 1975 gedoop nadat hy reeds ’n jaar lank in ’n Sowjet-strafkamp was omdat hy geweier het om militêre diens te doen. Hy is in 1977 vrygelaat. Hy was in 1986 nog ’n jaar in die tronk omdat hy Bybellektuur gehad het wat verban was. Sy pa, wat ook die naam Iwan gehad het, was van 1944 tot 1950 in ’n strafkamp vir sy Christelike neutraliteit.

Grigori sê: “Ek kon vervolging verduur omdat ek sterk geloof opgebou het. Ek het nie een keer getwyfel dat ek volgens die waarheid lewe en dat Jehovah die ware God is nie.”

Nou ondervind sy seun, Iwan, dieselfde ding. Grigori sê: “Ek onthou die Sowjet-jare, en ek sien hoe dieselfde ding nou weer gebeur. Daarom bid ek dat Iwan getrou bly gedurende hierdie moeilike tyd en Jehovah se naam met sy volharding verheerlik.”

In 1943 is Iwan se oupa, broer Partsei, wat nou al oorlede is, deur die Nazi’s na die Majdanek-kamp en later na Ravensbrück gestuur. Hulle het dit gedoen omdat hy geweier het om ’n dokument te teken wat sê dat hy nie meer Jehovah sou dien nie. Hy is in 1945 vrygelaat toe die Nazi’s oorwin is. Hy is weer in 1952 gearresteer en tot die doodstraf gevonnis. Maar sy vonnis is verander, en hy is in 1956 vrygelaat. Broer Partsei is weer in 1958 vir sy geloof gearresteer en in 1964 vrygelaat.

Iwan sê: “My oupa se voorbeeld van lojaliteit het my versterk. Wanneer hy ’n opstanding kry, sal ek vir hom vertel dat ek, soos hy, ook deur moeilike tye gegaan het en dat sy voorbeeld my aangemoedig het om getrou en moedig te bly.”

Iwan sê verder: “Niemand kan my geloof en liefde vir my God, Jehovah, wegvat nie. Ek het vir die speurders meer as een keer gesê: ‘Die ergste wat julle aan my kan doen, is om my te arresteer en in die tronk te sit, maar wanneer dit by die res van julle dreigemente kom, is julle magteloos.’”

Wat het ons broers deur hierdie moeilike tye gehelp?

Iwan sê: “In Handelinge 14:22 lees ons: ‘Ons moet baie verdrukking deurmaak om in die Koninkryk van God in te gaan.’ Elke Christen sal deur moeilike tye gaan. Dit verwys nie noodwendig na tronkstraf nie. Dit kan ’n siekte of die dood van ’n geliefde wees. As ons ’n positiewe gesindheid en ’n goeie verhouding met God het, sal ons dit kan verduur. Jehovah is altyd gereed om sy volk te ondersteun.”

Sy pa, Grigori, sê: “Maak jou verhouding met Jehovah sterk. Word regtig sy vriend. Dit is belangrik dat ons onsself oortuig dat ons die waarheid het. Dan is ons reg om enigiets op te offer om Jehovah te bly dien. Jou harde werk sal beloon word.”

Dit is aanmoedigend om verslae te lees van hoe Jehovah ons broers en susters ondersteun wat vir hulle geloof vervolg word. Ons hou aan bid vir ons broers in Rusland om moedig te bly en om versterk te word deur Jehovah se belofte: “Moenie bang wees nie . . . Jou beloning sal baie groot wees.” – Genesis 15:1.