Spring na inhoud

1 MAART 2019
RUSLAND

EHMR reageer vinnig op versoek oor marteling van broer in Rusland

EHMR reageer vinnig op versoek oor marteling van broer in Rusland

Op 25 Februarie 2019 is ’n versoek by die Europese Hof van Menseregte (EHMR) ingedien om vinnig op te tree ten behoewe van broer Sergei Loginof. Hy is een van die sewe broers wat gemartel is deur beamptes in die Wes-Siberiese stad Soergoet. Die ander ses broers wat gemartel is, is vrygelaat. Maar broer Loginof is in aanhouding vandat hy gearresteer is, en hy het nog nie behoorlike mediese sorg vir sy beserings gekry nie.

Op 26 Februarie, net ’n dag nadat die versoek ingedien is, het die EHMR ’n gunstige beslissing gelewer. Die Hof het die versoek toegestaan en Rusland beveel om “dadelik” toe te laat dat broer Loginof deur ’n span onafhanklike dokters ondersoek moet word. Hulle moet vasstel tot watter mate hy “fisies en emosioneel” seergemaak is en of hy gesond genoeg is om in die tronk te bly totdat hy verhoor word. Die Russiese regering het tot 11 Maart 2019 om te reageer.

Die EHMR keer net sulke versoeke goed in buitengewone omstandighede, wanneer iemand in dringende gevaar is om onherstelbaar seergemaak te word. Dit is aanmoedigend om te weet dat die EHMR so vinnig opgetree het – net ’n dag nadat die versoek ingedien is. Die EHMR het gesê dat hulle die situasie in verband met ons broers wat mishandel word, sal dophou.

Op die oomblik is daar 19 Getuies in Soergoet wat krimineel aankla is, en 3 van hulle is in aanhouding totdat hulle verhoor word.

Terwyl ons aanhou om tot Jehovah te bid vir ons broers, moet ons hierdie gerusstellende woorde van Jeremia in gedagte hou: “Geseënd is die man wat op Jehovah vertrou, en wie se vertroue Jehovah geword het.” – Jeremia 17:7.