Spring na inhoud

Van links na regs: Broer Aleksandr Prianikof, suster Wenera Doelowa en haar dogter, suster Darja Doelowa, voor hulle verhoor

24 JANUARIE 2020
RUSLAND

Een broer en twee susters word krimineel aangekla in Karpinsk, Rusland

Een broer en twee susters word krimineel aangekla in Karpinsk, Rusland

Op Maandag 27 Januarie 2020 word daar verwag dat die Karpinsk-stadshof sy beslissing sal lewer in die saak waarby broer Aleksandr Prianikof en suster Wenera en Darja Doelowa betrokke is. Die aanklaer het versoek dat broer Prianikof en suster Wenera Doelowa ’n drie jaar opgeskorte vonnis kry en dat suster Darja Doelowa ’n twee jaar opgeskorte vonnis kry.

Op 19 April 2016 het broer Prianikof en suster Wenera Doelowa met ’n man oor die Bybel gepraat. ’n Familielid van die man het broer Prianikof en suster Doelowa daarvan beskuldig dat hulle gesteel het en die polisie gebel. Hulle altwee is na die polisiestasie geneem. Die polisie het hulle vingerafdrukke geneem en hulle lektuur afgevat.

As gevolg van daardie voorval is hulle meer as twee jaar later weer in hegtenis geneem om ondervra te word. Hulle fone en ander persoonlike dokumente is afgevat. Die polisiehoof het ’n professor van teologie gevra om die inligting op broer Prianikof en suster Doelowa se fone deur te gaan. Die professor se verslag van 15 bladsye het tot die slotsom gekom dat hulle toestelle die leringe van Jehovah se Getuies bevat. Op grond hiervan is ’n kriminele saak teen hulle gemaak. Die Karpinsk-stadshof het daarna vir die polisie toestemming gegee om hulle huise te deursoek.

Toe suster Doelowa se woonstel deursoek is, het die polisie elektroniese toestelle, boeke en foto’s afgevat. Suster Doelowa se 18-jarige dogter, Darja, is ondervra. Die polisie het ook die huise van hulle familielede deursoek, sowel as broer Prianikof se woonstel.

Op die oggend van 16 April 2019 het drie agente van die Federale Veiligheidsdiens (FSB), ’n speurder en twee ander polisiemanne weer broer Prianikof se huis deursoek. Die polisie het elektroniese toestelle en ander persoonlike items afgevat.

Op 23 Julie 2019 is suster Darja Doelowa gearresteer en ondervra as ’n verdagte in die kriminele saak waarby broer Prianikof en haar ma betrokke is. Al drie is aangekla en hulle verhoor het in September 2019 begin.

Ons bid vol vertroue vir hierdie drie Getuies en die amper 300 ander broers en susters wat krimineel aangekla of in die tronk is in Rusland. “Mag die God wat hoop gee, julle met alle vreugde en vrede vul omdat julle op hom vertrou, sodat julle hoop oorvloedig kan wees met die krag van die heilige gees.” – Romeine 15:13.