Spring na inhoud

Broer Wilen Awanesof en sy vrou, Stella, nadat hy uit die tronk vrygelaat is

14 FEBRUARIE 2024
RUSLAND

Een-en-sewentig-jarige broer Wilen Awanesof uit Russiese tronk vrygelaat

Een-en-sewentig-jarige broer Wilen Awanesof uit Russiese tronk vrygelaat

Op 9 Februarie 2024 is broer Wilen Awanesof uit die tronk vrygelaat nadat hy amper vyf jaar lank in aanhouding was. Wilen is in Mei 2019 gearresteer. Op 29 Julie 2021 is hy tot ses jaar tronkstraf gevonnis. As gevolg van die tyd wat hy in aanhouding voor sy verhoor was, was dit nie nodig dat hy sy volle vonnis uitdien nie. Sy seun, Arsen, is ook op dieselfde tyd gearresteer en in die tronk gesit. Arsen is nog steeds in die tronk.

Kort voordat Wilen vrygelaat is, het sy vrou, suster Stella Awanesowa, gesê: “Die eerste twee en ’n half jaar wat Wilen in aanhouding voor sy verhoor was, was vir ons almal die moeilikste tyd. Ek was baie angstig. Ons is nie toegelaat om met Wilen te kommunikeer nie, nie eers deur briewe nie. En omdat my man sowel as my seun in die tronk was, het ek nie geweet hoe ek op my eie na ons gesin se finansiële verantwoordelikhede sou omsien nie.”

Ten spyte van hierdie uitdagings het Wilen en Stella altyd Jehovah se ondersteuning gevoel. Stella het bygevoeg: “Wilen het my vertel dat elke keer toe hy na die hof gedurende die kriminele verhoor geneem is, kon hy sien dat die broers en susters by die hof bymekaargekom het. Vir hom was dit ’n bewys van Jehovah se liefde. Wat my betref, Jehovah het altyd seker gemaak dat ek alles het wat nodig is. Ek is ’n 100 persent oortuig dat Jehovah dié ondersteun wat op hom vertrou.”

Ons is bly saam met Wilen en Stella omdat hulle weer bymekaar is. En ons sal aanhou bid vir hulle seun, Arsen, en al ons broers en susters wat nog steeds in die tronk is. Ons is oortuig dat Jehovah sal aanhou om te bewys dat hy ’n lig, ’n redding en ’n vesting is vir dié wat getrou aan hom bly. – Psalm 27:1.