Spring na inhoud

Party van die meer as 330 broers en susters in Rusland en die Krim wat in die tronk was sedert die uitspraak in 2017 deur die Russiese Hooggeregshof.

8 JUNIE 2022
RUSLAND

Europese Hof lewer belangrike uitspraak teen Rusland omdat hulle Jehovah se Getuies vervolg

Europese Hof lewer belangrike uitspraak teen Rusland omdat hulle Jehovah se Getuies vervolg

Op 7 Junie 2022 het die Europese Hof van Menseregte (EHMR) ’n belangrike uitspraak a teen Rusland gelewer omdat hulle Jehovah se Getuies vervolg. Die EHMR het gesê dat dit onwettig is dat Rusland ’n verbod op Jehovah se Getuies in 2017 geplaas het. Die Hof het ook gesê dat dit onwettig is om gedrukte publikasies en jw.org te verbied. Rusland is beveel om op te hou met alle kriminele sake wat hangend is teen ons broers en susters en om almal wat in die tronk is, vry te laat. Rusland is ook beveel om alle eiendomme wat afgevat is, terug te gee of om meer as R1,1 miljard as vergoeding te betaal vir die eiendom. Rusland moet ook altesaam meer as R66 miljoen as vergoeding aan die aansoekers betaal.

Die voormalige takkantoor in Rusland wat deur die Russiese regering afgevat is. Dit het 14 geboue ingesluit op ’n stuk grond van meer as 100 000 vierkante meter net buite St. Petersburg

Die uitspraak fokus die aandag op 20 sake wat van 2010 tot 2019 voorgekom het en waarby meer as 1 400 aansoekers betrokke is – individuele Getuies en regsentiteite. Maar die uitspraak deur die EHMR raak baie meer mense as net die aansoekers. Dit sê dat Rusland “alle nodige maatreëls moet neem om seker te maak dat daar opgehou word met alle kriminele sake wat hangend is teen Jehovah se Getuies . . . en om alle Getuies van Jehovah vry te laat wie se vryheid van hulle af weggeneem is”. (Ons kursiveer.) Die uitspraak verdedig elkeen van ons broers en susters binne en buite Rusland, en bevestig wetlik dat hulle wetsgehoorsame burgers is wat verkeerdelik vervolg en in die tronk gesit word.

Regdeur die uitspraak het die EHMR stelselmatig Rusland se ongegronde bewerings dat ons optrede, oortuigings, publikasies en webwerf ekstremisties is, verdedig. Byvoorbeeld, let op die volgende dele uit die uitspraak:

  • Optrede: Die EHMR beklemtoon dat die Russiese howe “nie enige woord, daad of optrede geïdentifiseer het wat bewys dat die aansoekers deur geweld, haat of diskriminasie teen ander gemotiveer is nie”. (§271)

  • Oortuiging dat Jehovah se Getuies die waarheid het: “Om vreedsaam te probeer om ander te oortuig dat ’n persoon se godsdiens beter is en hulle aan te moedig om ‘valse godsdiens’ te verlaat, is ’n wettige manier om ’n mens se reg op godsdiensvryheid en vrye meningsuiting te gebruik.” (§156)

  • Bloedoortappings: “’n Lid van die gemeenskap het die reg om ’n bloedoortapping te weier. Sy het die wilsvryheid om haar reg te beoefen om persoonlike besluite oor gesondheidsorg te maak, en dit word gewaarborg deur die Konvensie en die Russiese wet.” (§165)

  • Gewetensbeswaar: “Om militêre diens te weier as gevolg van godsdiensoortuigings, het nie enige Russiese wette gebreek nie.” (§169)

  • Ons publikasies: “Die aansoekers se godsdiensbedrywighede en die inhoud van hulle publikasies lyk asof dit vreedsaam ooreenstem met hulle leerstelling wat beweer dat hulle nie gewelddadig is nie.” (§157)

  • JW.ORG: Die Hof het vasgestel dat die inhoud op jw.org nie ekstremisties is nie. As die owerhede beswaar gehad het teen party van die inligting op die webwerf, moes hulle vereis het dat die organisasie net daardie dele wat vir hulle aanstootlik is, verwyder eerder as om die hele webwerf te verbied. (§231 en §232)

Die uitspraak veroordeel die Russiese owerhede sterk en bewys dat hulle gediskrimineer het, kant gekies het en “nie eerlik opgetree het nie”. (§187) Byvoorbeeld, die uitspraak gee besonderhede oor die volgende dinge wat die Hof ontdek het:

  • “Die gedwonge ontbinding van alle godsdiensorganisasies van Jehovah se Getuies in Rusland is nie as gevolg van wetlike redes gedoen nie. Die bewyse toon eerder dat dit gedoen is omdat die Russiese regering teen die godsdiensgebruike van Jehovah se Getuies gediskrimineer het. Die Russiese regering wou ook hê dat Jehovah se Getuies hulle geloof moet verwerp en wou ander keer om daarby aan te sluit.” (§254)

  • Die Russiese owerhede het ernstige “foute gemaak in hulle prosedures”. Die Russiese Hooggeregshof het byvoorbeeld diskriminerende verslae deur kenners aanvaar wat deur die polisie en aanklaers gekies is in plaas daarvan om die publikasies onpartydig te hersien. (§203)

  • Die wet oor ekstremisme is strategies op so ’n vae en breë manier geskryf dat dit die owerhede toegelaat het om arbitrêr teen Jehovah se Getuies op te tree. (§272)

Dit is onduidelik watter uitwerking die EHMR se uitspraak in Rusland sal hê. Maar uiteindelik maak ons nie staat op menseowerhede nie. Ons “wag [eerder] op Jehovah” as “ons helper en ons skild”. – Psalm 33:20.