7 MAART 2022
RUSLAND
Europese Hof van Menseregte sê Rusland het basiese regte en vryheid van Jehovah se Getuies geskend
Die Europese Hof van Menseregte (EHMR) het op 22 Februarie 2022 twee uitsprake ten gunste van 15 Getuies van Jehovah gelewer. Die sake het te doen gehad met gevalle waar polisiebeamptes ons broers tussen 2010 en 2012 mishandel het toe hulle huise deursoek is. Die uitsprake bevestig dat Rusland ons broers en susters se basiese reg op vryheid van godsdiens geskend het. Rusland is beveel om altesaam meer as 99 000 euro (meer as R2 miljoen) as vergoeding te betaal. Die uitsprake is finaal en kan nie geappelleer word nie.
Die Hof se twee uitsprake is van toepassing op ses sake teen Rusland. a Die beskuldigdes in die sake het beweer dat die Russiese owerhede onwettige lasbriewe gebruik het om huise en ’n Koninkryksaal te deursoek. Dit is ook gebruik om twee van ons susters se klere uit te trek en hulle te deursoek, en toe is hulle gearresteer omdat hulle gepreek het. Persoonlike items is ook van ander weggeneem. In party gevalle is hierdie dinge gedoen deur gemaskerde en swaar gewapende FSB-beamptes wat ons broers en susters gewelddadig behandel het.
André Carbonneau, ’n internasionale menseregte-prokureur wat deur die regspan geraadpleeg is, het oor die belangrikheid van hierdie uitsprake gepraat. Hy het verduidelik dat die uitsprake “’n baie belangrike voorbeeld stel dat Rusland onregverdig en onwettig opgetree het toe huise van Jehovah se Getuies deursoek is. Dit sluit die 1 700 gevalle in vandat die werk van Jehovah se Getuies in 2017 verbied is. Nou word enige nuwe huise wat deursoek word net omdat iemand een van Jehovah se Getuies is, as onwettig beskou, en dit verbreek die Europese Konvensie.” Hy het bygevoeg: “Dit is belangrik om te noem dat die Hof die Russiese owerhede veroordeel het omdat hulle die Getuies gekeer het om van deur tot deur te preek. Dit wys dat die EHMR die bediening as ’n godsdiensaktiwiteit beskou waarmee die owerhede nie moet inmeng nie.”
Hoewel hierdie twee uitsprake nie die vervolging van Jehovah se Getuies in Rusland veroordeel nie, maak dit dit moontlik vir die Hof om toekomstige uitsprake te lewer oor die verbod op ons organisasie. Daar is meer as 60 ander sake waarby Jehovah se Getuies in Rusland betrokke is en waarin die EHMR nog uitspraak moet gee. Ons hoop dat hierdie twee positiewe uitsprake ’n aanduiding is van hoe die Hof in hierdie sake sal beslis.
Ons is almal bly om te sien dat menseregte-instansies die standvastige integriteit van ons broers en susters in Rusland erken. Hierdie uitsprake bewys dat Jehovah die pogings seën om sy naam lojaal te verdedig en sy soewereiniteit te ondersteun. – Psalm 26:11.
a Die ses sake is: Chavychalova v. Russia; Cheprunovy and Others v. Russia; Novakovskaya v. Russia; Ogorodnikov and Others v. Russia; Pekshuyev and Others v. Russia; and Zharinova v. Russia.