Spring na inhoud

Die Europese Raad se Komitee van Ministers, wat toesig hou oor die uitvoering van uitsprake deur die Europese Hof van Menseregte

21 DESEMBER 2022
RUSLAND

Europese Raad versoek Rusland om verbod op Jehovah se Getuies te verwyder

Europese Raad versoek Rusland om verbod op Jehovah se Getuies te verwyder

In ’n brief op 9 Desember 2022 aan Rusland se Minister van Buitelandse Sake het die sekretaris-generaal van die Europese Raad (COE) Rusland versoek om aan die onlangse uitsprake van die Europese Hof van Menseregte (EHMR) te voldoen. Sulke uitsprake sluit die belangrike uitspraak van Junie 2022 in wat gesê het dat Rusland se verbod op Jehovah se Getuies onwettig is. a

Die brief het Rusland daaraan herinner dat hoewel hulle nie meer ’n lid van die COE vanaf Maart 2022 is nie, die regering nog steeds onder verpligting is om aan enige uitspraak te voldoen wat deur die EHMR gelewer is voor of op 16 September 2022. Die COE se Komitee van Ministers sal ook nog steeds seker maak dat die Hof se uitsprake gevolg sal word.

Sedert die uitspraak van Junie 2022 het die Komitee Rusland ernstig versoek om die 2017-uitspraak van die Hooggeregshof wat in werklikheid die godsdiensbedrywighede van Jehovah se Getuies verbied het, nietig te verklaar. Die Komitee het Rusland ook versoek “om die wetgewing oor anti-ekstremisme wat Jehovah [se] Getuies [se] organisasies ekstremisties verklaar, te hersien . . . ; om op te hou met alle kriminele vervolging van Jehovah se Getuies en om diegene wat in die tronk is, vry te laat. Hulle moet hulle kriminele rekord verwyder en ook alle eiendom wat deur Getuies besit word, teruggee of skadevergoeding daarvoor betaal.” b

Tot nou toe het die verbod regsprobleme vir meer as 660 van ons broers en susters veroorsaak, net omdat hulle hulle geloof vreedsaam beoefen. Meer as 360 van hulle het tyd in die tronk spandeer, waarvan 114 nog steeds in die tronk is of in aanhouding voor hulle verhoor is.

Meer as 450 broers en susters is by Rusland se federale lys van ekstremiste en terroriste gevoeg, wat die lewe vir hulle en hulle gesinne baie moeilik maak. Om op die lys te wees – waartoe die publiek toegang het – het hulle ’n slegte reputasie gegee en het gekeer dat baie werk kry. Ander gevolge sluit in dat hulle bankrekeninge gevries is en dat dit vir hulle moeilik is om versekeringspolisse te kry of te hernieu, eiendom te verkoop, beleggings te bestuur, erfporsies te ontvang of selfs SIM-kaarte vir selfone te koop.

Ons is bly om te weet dat die COE aanhou om geregtigheid vir ons broers en susters in Rusland te soek. Intussen is die gereelde verslae op jw.org oor die geloof, moed en vreugde van ons broers en susters in Rusland danksy Jehovah se hulp ’n voortdurende bron van aanmoediging vir die wêreldwye broederskap. – Filippense 1:12-14.

a Sien paragraaf drie en vyf van H46-33 Jehovah’s Witnesses of Moscow and Others (Application No. 302/02) and Krupko and Others (Application No. 26587/07) v. Russian Federation.

b Sien paragraaf vier van H46-33 Jehovah’s Witnesses of Moscow and Others (Application No. 302/02) and Krupko and Others (Application No. 26587/07) v. Russian Federation.