Spring na inhoud

Hofburg-paleis in Wene, Oostenryk, waar die Permanente Raad van die Organisasie vir Veiligheid en Samewerking in Europa (OSCE) op 12 Maart 2020 die vervolging van Jehovah se Getuies aangespreek het

1 MEI 2020
RUSLAND

Europese owerhede veroordeel vervolging van Jehovah se Getuies in Rusland

Europese owerhede veroordeel vervolging van Jehovah se Getuies in Rusland

Op 12 Maart 2020 het meer as 30 Europese lande die vervolging en marteling van ons broers en susters in Rusland sterk veroordeel. Hierdie internasionale veroordeling van Rusland het by ’n vergadering gebeur wat gehou is deur die Permanente Raad van die Organisasie vir Veiligheid en Samewerking in Europa (OSCE). Een van die OSCE se doelwitte is om menseregte te beskerm.

In ’n gesamentlike verklaring voor die Permanente Raad van die OSCE het die 27 lidlande van die Europese Unie (EU) en nog 6 lande wat nie lede is nie, gesê: “Die regering in Rusland hou aan om Jehovah se Getuies te vervolg. Hulle deursoek hulle huise, sit hulle in die tronk sonder aanklagte, ondersoek hulle asof hulle kriminele is en vonnis hulle tot tronkstraf van tot sewe jaar lank. Die Europese Unie is baie bekommerd hieroor. Ons is ook baie bekommerd oor onlangse spesifieke berigte van tronkbewaarders of die polisie wat verskillende Getuies van Jehovah martel en mishandel voordat hulle gearresteer is of terwyl hulle in aanhouding is.”

Die Britse OSCE-ambassadeur, Neil Bush, het in sy toespraak voor die Permanente Raad gesê: “In Julie 2017 het die Russiese Hooggeregshof saamgestem met vorige hofuitsprake dat Jehovah se Getuies ‘ekstremiste’ is. Dit het veroorsaak dat die vreedsame aanbidding van 175 000 Russiese Burgers as ’n misdaad beskou word. Dit het ook nie die reg op godsdiensvryheid gerespekteer wat gewaarborg word deur die Russiese Grondwet en deur baie uitsprake deur die OSCE nie.” Hy het bygevoeg: “Vanaf daardie uitspraak het ons meer arrestasies, kriminele ondersoeke en vervolging van Jehovah se Getuies regoor Rusland gesien. Soos die OSCE, is ons ook baie bekommerd oor die aantygings van marteling en mishandeling van Jehovah se Getuies.”

Een van die gevalle wat deur die Europese amptenare genoem word, is die aanranding van vyf Getuies op 6 Februarie 2020. Tronkbewaarders van Strafkolonie Nr. 1 in Rusland het Broer Aleksei Boedentjoek, Gennadi German, Roman Gridasof, Feliks Machammadijef en Aleksei Miretski wreed aangerand. Die EU-verteenwoordigers het gesê: “Almal is ernstig beseer, en een van hulle [Feliks Machammadijef] moes hospitaal toe gaan. Volgens Wadim Koetsenko is hy ook op 10 Februarie 2020 gemartel voordat hy tronk toe geneem is. Hy beweer dat die polisie hom herhaaldelik geslaan, gewurg en met elektriese toestelle geskok het omdat hulle inligting oor ander Getuies van Jehovah wou hê.”

Die EU-verteenwoordigers het ook almal daaraan herinner dat “marteling en ander mishandeling onder die ergste skendings van menseregte, menslike integriteit en menswaardigheid is. Marteling skend internasionale wetgewing oor menseregte, veral die Internasionale Verdrag oor Burgerlike en Politieke Regte, die Europese Konvensie oor Menseregte en die VN se Konvensie teen Marteling en ander Wrede, Onmenslike of Vernederende Behandeling of Straf. Dit is almal wette wat die Russiese Federasie ingestem het om te gehoorsaam.”

Die Europese leiers het ook opgelet dat die wrede optrede teen Jehovah se Getuies in Rusland direk teen die waarborg gaan wat die Russiese Federasie die Permanente Raad gegee het dat ons broers en susters vry is om hulle godsdiens in die land te beoefen.

Die EU-verteenwoordigers het gesê: “Op 20 April 2017 het die Hooggeregshof van die Russiese Federasie die Administratiewe Sentrum van Jehovah se Getuies en alle plaaslike entiteite op grond van ‘ekstremisme’ verbied. Daarna het ons gehoor dat die Russiese verteenwoordigers meer as een keer in die Permanente Raad [sessies] gesê het dat Jehovah se Getuies nou, en in die toekoms, vry is om hulle godsdiens te beoefen en dat vryheid van godsdiens of oortuiging gewaarborg word. Tog bly ons van baie berigte hoor hoe Jehovah se Getuies se huise deursoek word, hoe hulle sonder aanklagte tronk toe gestuur word en hoe hulle krimineel ondersoek word.”

Die EU-leiers het gesê dat “vandat alle plaaslike godsdiensorganisasies van Jehovah se Getuies in Rusland gelikwideer is, is daar na bewering 869 huise deursoek, 26 mense in aanhouding gesit voor hulle verhoor, 23 onder huisarres geplaas, 316 aangekla en 29 alreeds skuldig bevind”.

Ambassadeur Bush het gesê: “Dit is duidelik uit die voorbeelde wat nou net genoem is, dat wanneer Jehovah se Getuies hulle godsdiens beoefen, dit kan veroorsaak dat hulle huise deursoek word, hulle lank in aanhouding geplaas word, hulle krimineel vervolg word en hulle in die tronk gesit word. Die hoeveelheid huise en die manier hoe die huise deursoek is, insluitende die hoeveelheid huise wat op dieselfde dag en in dieselfde stad deursoek is, gee die indruk van ’n georganiseerde kampanje van vervolging teen Jehovah se Getuies.”

Kenners op die gebied van godsdiensvryheid het ook die behandeling van ons broers en susters in Rusland veroordeel. Dr. Gudrun Kugler, ’n Oostenrykse regsgeleerde, politikus en Rooms-Katolieke teoloog, het oor die EU-verteenwoordigers se verklaring gesê: “Die situasie het baie erg geword vandat Jehovah se Getuies in April 2017 in Rusland verban is. . . . Die wet oor anti-ekstremisme op grond waarvan Jehovah se Getuies in Rusland skuldig bevind word, word deur menseregte-organisasies as ‘onduidelik en baie onspesifiek’ beskryf. Net die feit dat iemand een van Jehovah se Getuies is en sy godsdiens in sy huis beoefen, is genoeg om hom onder Artikel 282.2 skuldig te bevind en tot tronkstraf te vonnis. . . . Die wrede vervolging van Jehovah se Getuies en ander godsdiensminderheidsgroepe in Rusland moet ophou!”

Die EU-verteenwoordigers het gesê: Rusland en alle lidlande van die OSCE “is onder verpligting om effektiewe maatreëls te neem om marteling te voorkom, persone wat hiervan skuldig is, voor die hof te bring, die slagoffers hiervan te vind en te sorg dat hulle skadevergoeding kry. Daarom vra ons die Russiese Federasie om dadelik ’n effektiewe en deeglike ondersoek in te stel na alle berigte van sulke optrede sodat enigiemand wat verantwoordelik is hiervoor of betrokke is hierby, gestraf kan word. . . . Ons vra die owerhede om op te hou om mense te vervolg wat onregverdig aangekla is of in die tronk gesit is net omdat hulle hulle mensereg gebruik het om hulle godsdiens te beoefen. Ons vra die Russiese Federasie om die belofte te hou wat hulle voor ander lande gemaak het om menseregte te beskerm, om vryheid van meningsuiting, assosiasie, vreedsame vergadering, godsdiens of oortuiging sowel as die regte van mense wat aan minderheidsgroepe behoort, te respekteer en om ’n regverdige verhoor te waarborg.”

Ongeag of Rusland op die internasionale kritiek sal reageer deur godsdiensvryheid te respekteer, ons weet dat Jehovah ons broers en susters in Rusland sal bly help om geduldig en moedig te volhard totdat daar ware geregtigheid sal wees. – Psalm 10:18.