Spring na inhoud

Van links na regs, boonste ry: Broer Aleksei Boedentjoek, Dennis Christensen, Gennadi German en Roman Gridasof. Onderste ry: Broer Wadim Koetsenko, Feliks Machammadijef en Aleksei Miretski

6 NOVEMBER 2020
RUSLAND

Internasionale amptenare maak beswaar teen Rusland se vervolging van Jehovah se Getuies

Internasionale amptenare maak beswaar teen Rusland se vervolging van Jehovah se Getuies

“’n Verskriklike onreg.” – Voorsitter Gayle Manchin van USCIRF

Amptenare van Europa en die Verenigde State hou aan om die vervolging van Jehovah se Getuies in Rusland te veroordeel.

Verenigde State se Internasionale Kommissie vir Godsdiensvryheid (USCIRF)

In ’n verklaring wat op 27 Oktober 2020 vrygestel is, sê voorsitter Gayle Manchin: “Die USCIRF is geskok deur hoe Rusland Dennis Christensen behandel. Dit is duidelik dat daar ’n amptelike vendetta teen hierdie arme man is, wat net sy godsdiens vreedsaam beoefen het. In plaas daarvan dat die staat genadig is, behandel hulle hom soos ’n gevaarlike misdadiger. Dit is ’n verskriklike onreg.”

Voorsitter Gayle Manchin ondersteun broer Christensen deur middel van die USCIRF se Projek vir Godsdienstige Gevangenes met Gewetensbeswaar. Die USCIRF het meer as een keer broer Christensen se tronkstraf van ses jaar sterk veroordeel.

In hulle verklaring het die USCIRF Rusland ook veroordeel omdat hulle weier om broer Christensen vroeg vry te laat. Die USCIRF sê dat hy “op 23 Junie [2020] parool gekry het, maar dat die uitspraak dadelik deur ’n staatsaanklaer teëgestaan is. In plaas daarvan dat Christensen vrygelaat is, is hy eerder in ’n strafsel met swak ventilasie gesit omdat hy na bewering tronkreëls gebreek het.”

Die USCIRF se verklaring sluit af deur na sy Jaarverslag vir 2020 te verwys. Die verslag veroordeel die Russiese regering “vir hulle stelselmatige, voortdurende en onregverdige skending van godsdiensvryheid”. Hulle stel voor dat die Amerikaanse regering Rusland moet straf deur hulle te identifiseer as ’n “land wat veral bekommernis veroorsaak”.

Verenigde Nasies se Raad vir Menseregte

Agt hooggeplaaste amptenare wat deur die Verenigde Nasies se Raad vir Menseregte gekies is, het ook ’n brief geskryf aan die Permanente afvaardiging van die Russiese Federasie na die Verenigde Nasies se kantoor. In hierdie brief het die amptenare verduidelik dat hulle geskok is deur “die voortdurende vervolging van Jehovah se Getuies in die Russiese Federasie, die likwidasie van die Administratiewe Sentrum van Jehovah se Getuies in St. Petersburg en die verbod op godsdiensbedrywighede van al sy 395 plaaslike organisasies in die land.” Die amptenare kritiseer Rusland ook omdat hulle die internasionale gemeenskap se herhaaldelike versoeke om die vervolging te beëindig, ignoreer.

Die VN-amptenare verduidelik dat Rusland se onduidelike wette oor ekstremisme “gebruik is om enige godsdiensbedrywigheid van Jehovah se Getuies stop te sit. Dit is ook gebruik om hulle bang te maak en om hulle privaatheid deur middel van polisievervolging te skend. Hulle huise is deursoek, party van hulle is ondervra en in sekere gevalle is hulle skuldig bevind en tronk toe gestuur.”

Die amptenare dring daarop aan dat “die reg van Jehovah se Getuies om hulle godsdiens te beoefen, beskerm word deur artikel 18 (1) van die ICCPR”. a Daarom vra hulle die Russiese Federasie “om seker te maak dat die Federale Wet op die Teëwerking van Ekstremistiese Bedrywighede wat in 2002 aangeneem is, nie die grondwetlike regte van mense onregverdig skend nie. Dit sluit in die reg op vryheid van denke, gewete, godsdiens of oortuiging.”

Die brief noem ook party van die gevalle waar ons broers baie sleg behandel is. Byvoorbeeld, dit verwys na die vyf Getuies van Saratof wat op 6 Februarie 2020 wreed mishandel is. Die brief verduidelik: “Jehovah se Getuies wat in aanhouding is, kry dikwels swaar as gevolg van aaklige toestande in detensie-sentrums, mishandeling en ander soorte geweld. Dit kan as marteling beskou word as gevolg van hulle godsdiensoortuigings.”

Die amptenare se brief verwys na nog ’n tragiese voorbeeld van vervolging. Op 10 Februarie 2020 het Russiese polisiemanne broer Wadim Koetsenko gemartel. Die Russiese owerheid ontken dat hulle broer Koetsenko gemartel het. Maar die VN-amptenare glo nie die Russiese owerheid nie. “Dit lyk asof daar ’n patroon van landwye vervolging van Jehovah se Getuies is deur hulle vreedsame bedrywighede ’n misdaad te noem” en die VN-amptenare is baie bekommerd hieroor.

Europese Raad se Komitee van Ministers

In 2017 het Rusland ’n verbod op Jehovah se Getuies gesit en hulle begin vervolg. As gevolg hiervan het die Europese Raad se Komitee van Ministers b Rusland begin dophou om seker te maak of hulle die twee uitsprake deur die Europese Hof van Menseregte gehoorsaam. In hierdie uitsprake het hierdie Hof Rusland daarvan skuldig bevind dat hulle die regte van Jehovah se Getuies skend. c Daarom het die Komitee op 1 Oktober 2020 ’n uitspraak gelewer. In hierdie uitspraak het hulle gesê dat hulle “bekommerd is oor die 2017-verbod en die skokkende berigte van verskillende bronne. [Hierdie bronne wys] dat as gevolg van hierdie verbod word Jehovah se Getuies voortdurend gearresteer, vervolg en in die tronk gesit net omdat hulle hulle godsdiens vreedsaam beoefen.”

Om soortgelyke skendings te voorkom, stel die Komitee voor dat Rusland na maniere soek om sy “huidige wetgewing oor anti-ekstremisme te verbeter wat die grondslag is vir die verbod en vir die kriminele vervolging van Jehovah se Getuies”. Rusland moet dit ook oorweeg om “die verbod te lig en die kriminele sake teen Jehovah se Getuies te beëindig wat net teen hulle gemaak is omdat hulle hulle godsdiens vreedsaam beoefen het”. In 2021 sal die Komitee kyk of Rusland iets gedoen het om die situasie te verbeter.

Vanaf 2017 is meer as 400 van ons broers en susters in Rusland en die Krim van sogenaamde ekstremisme beskuldig. Meer as 210 Getuies is in meer as 70 stede regoor Rusland in die tronk gesit.

“Ons roep die naam van Jehovah ons God aan” om aan te hou om ons broers en susters te help om geduldig te volhard. – Psalm 20:2, 7.