Spring na inhoud

Van links na regs: Broer Alam Alijef, Waleri Kriger, Sergei Sjoeljarenko, Dmitri Zagoelin

18 MAART 2021| BYGEWERK: 26 JANUARIE 2023
RUSLAND

JONGSTE NUUS – BROERS SKULDIG BEVIND | Vier broers van Birobidzjan kan tronk toe gestuur word

JONGSTE NUUS – BROERS SKULDIG BEVIND | Vier broers van Birobidzjan kan tronk toe gestuur word

Datum van uitspraak

Die Birobidzjan-distrikshof van die Joodse selfregerende streek het broer Alam Alijef, Waleri Kriger, Sergei Sjoeljarenko en Dmitri Zagoelin skuldig bevind. Broer Alijef is tot ses en ’n half jaar tronkstraf gevonnis en broer Zagoelin tot drie en ’n half jaar tronkstraf. Broer Kriger en Sjoeljarenko is albei tot sewe jaar tronkstraf gevonnis. Al vier broers is in die hof in hegtenis geneem.

Profiele

Alam Alijef

  • Gebore: 1963 (Ljaki-dorp, Azerbeidjan)

  • Agtergrond: Het in die weermag van die Sowjetunie in Duitsland gedien. Het later op ’n vissersboot gewerk. Het in 1989 na Chabarowsk, Rusland, getrek. Werk op die oomblik in ’n fabriek

    Het die Bybel begin studeer kort nadat hy Rusland toe getrek het. Is in 1991 gedoop. Het in 2015 met sy vrou, Swetlana, getrou. Hulle geniet dit om tyd in die natuur te spandeer

Waleri Kriger

  • Gebore: 1968 (Joodse selfregerende streek)

  • Agtergrond: Het in ’n niegodsdienstige huis grootgeword. Het as ’n kind gimnastiek geniet. Het masseringsterapie gestudeer en het op die oomblik sy eie besigheid. Is in 1994 gedoop. Het in 2017 met sy vrou, Natalja, getrou. Hulle geniet dit om vlugbal te speel en om tyd saam in die natuur te spandeer

Sergei Sjoeljarenko

  • Gebore: 1984 (Chabarowsk)

  • Agtergrond: Het in Turkmenistan as ’n kind gewoon terwyl sy pa in die weermag daar gedien het. Werk in ’n fabriek. Hou daarvan om portrette te teken en om ander tale te leer. Het by sy ma oor Jehovah geleer. Het in 1997 gedoop toe hy 13 jaar oud was

Dmitri Zagoelin

  • Gebore: 1973 (Chabarowsk)

  • Agtergrond: Wou ’n soldaat word toe hy ’n kind was. Terwyl hy in die weermag was, het hy vegkuns geleer en valskerm-opleiding gekry. Werk op die oomblik by ’n spoorwegmaatskappy. Het in 1991 die Bybel begin studeer. Is in 1992 gedoop. Het in 2012 met sy vrou, Tatjana, getrou

Geskiedenis van saak

Op 17 Mei 2018 is ’n spesiale dag in Birobidzjan gereël met die naam “Oordeelsdag” waarop 150 polisiemanne baie huise deursoek het. Broer Alam Alijef is aangekla en vir agt dae in aanhouding gesit in ’n detensie-sentrum vir die “organisering van die bedrywighede van ’n ekstremistiese organisasie”. Broer Waleri Kriger, Sergei Sjoeljarenko en Dmitri Zagoelin was ook aangekla. Al vier broers mag nie die gebied verlaat nie. Om dinge erger te maak, word die vrouens van Alam, Waleri en Dmitri in aparte sake van misdade aangekla.

Voordat Alam gearresteer is, het hy navorsing gedoen oor hoe om vervolging te verduur. Hy het ook vir ander in die gemeente vertel wat hy geleer het. Hy sê: “Ek het die broers en susters aangemoedig om nie bang te word wanneer hulle vervolg word nie. Dit was baie gepas omdat die huise van 21 gesinne in ons gemeente presies een week later deursoek is.”

Waleri en sy vrou, Natalja, kon nie na ’n streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Seoel, Suid-Korea, gaan nie as gevolg van reisbeperkings. Hulle was ook nie toegelaat om sy ouers te besoek wat in Israel woon nie. Ongelukkig is sy pa in Februarie 2019 oorlede. ’n Paar maande voordat sy pa gesterf het, het sy ma vir ’n rugoperasie gegaan en het sy voltydse versorging nodig gehad. Waleri is oortuig dat Jehovah hulle ondersteun het. Hoewel sy ouers nie Jehovah se Getuies is nie, was dit sy geestelike broers en susters wat gehelp het om vir sy ma te sorg. Hy verduidelik: “Ons het tot Jehovah gebid oor my ma se situasie, en Jehovah het ons gebede beantwoord. Ons mede-aanbidders in Israel het my ma aangemoedig en vertroos. Hulle het haar besoek, met haar gepraat en haar na die vergaderinge genooi. Hoewel ons nie by my ma kon wees nie, kon ons Jehovah se hand sien deur middel van ons broers en susters.”

Vir Dmitri het die vervolging iets bevestig wat hy alreeds geweet het. Hy vertel: “Wanneer alles goed gaan in die lewe en daar geen beperkings op ons aanbidding van God is nie, kan dit maklik wees om ons geestelike skatte as vanselfsprekend te aanvaar en dit af te skeep. Maar wanneer die owerhede ons keer om God vryelik te aanbid, besef ons dat wat ons omstandighede ook al is, ons alles moet doen wat ons kan om nader aan Jehovah te kom en om vir moontlike vervolging voor te berei. Dit sal dan wys wees om die vryheid wat ons vandag het, te gebruik om ‘skatte in die hemel bymekaar te maak’. Dit sal ons help om tot die einde te volhard en om ons geloof sterk te hou.” – Matteus 6:20.

Dit is duidelik dat Jehovah ons liewe broers en susters in Rusland die “krag wat bo die normale is,” gee om te volhard. – 2 Korintiërs 4:7.