Spring na inhoud

Suster Swetlana Monis saam met haar man, Alam Alijef

3 FEBRUARIE 2021
RUSLAND

JONGSTE NUUS – SUSTER SKULDIG BEVIND | Suster Swetlana Monis bly positief al kan sy skuldig bevind word vir haar geloof

JONGSTE NUUS – SUSTER SKULDIG BEVIND | Suster Swetlana Monis bly positief al kan sy skuldig bevind word vir haar geloof

Op 31 Oktober 2022 het die Birobidzjan-distrikshof van die Joodse selfregerende streek suster Swetlana Monis skuldig bevind en haar ’n opgeskorte tronkvonnis van twee en ’n half jaar gegee. Sy hoef nie op hierdie stadium tronk toe te gaan nie.

Op 9 Maart 2022 het die Hof van die Joodse selfregerende streek Swetlana se uitspraak verander. Haar saak is na die Birobidzjan-distrikshof van die Joodse selfregerende streek gestuur vir herverhoor.

Op 15 Februarie 2021 het die Birobidzjan-distrikshof van die Joodse selfregerende streek Swetlana skuldig bevind van deelname aan die bedrywighede van ’n organisasie wat verbied is. Die hof het haar ’n boete van 10 000 roebel (R2 450) gegee.

Profiel

Swetlana Monis

  • Gebore: 1977 (Lesozawodsk)

  • Agtergrond: Het ’n oogsiekte wat al hoe erger word. Hou daarvan om tale te leer. Het Chinees, Duits en Engels geleer. Het haar seun grotendeels op haar eie grootgemaak. Het haar gesin onderhou deur ’n klein Chinese restaurant oop te maak

    Dit het haar gepla dat daar soveel ongeregtigheid in die wêreld is, en daarom het sy die Bybel begin studeer. Is in 2005 gedoop. Is in 2015 met haar man, Alam Alijef, getroud. Hy is ook in ’n aparte saak krimineel aangekla

Geskiedenis van saak

Op 26 September 2019 het luitenant D. Jankin, ’n hoofspeurder in die Federale Veiligheidsdiens (FSB), ’n kriminele saak teen suster Swetlana Monis gemaak. Die hof het haar verbied om haar kar amper twee maande lank te gebruik, al het sy dit nodig gehad om haar ouma, wat 91 jaar oud is, te help.

Die eerste ondersoek het in Desember 2019 geëindig. Later het offisiere haar saak aan die Birobidzjan-distrikshof oorgegee.

Wanneer Swetlana aan die vervolging dink, sê sy: “Toe die owerhede my huis deursoek het, het ek kalm gebly. Dit was toe dat ek die eerste keer die volgende woorde verstaan het: ‘Gelukkig is dié wat ter wille van regverdigheid vervolg is.’” – Matteus 5:10.

Nadat hulle huis deursoek is, is Swetlana se man, Alam, ook gearresteer en agt dae lank in ’n tydelike detensiesentrum geplaas. Sy onthou: “Die moeilikste ding vir my was om my nie te veel oor hom te bekommer nie. Ek was bekommerd omdat my man se chroniese rugprobleem erger geword het. Hy het vir behandeling by ’n hospitaal vir sy rugprobleem gegaan . . . net ’n week voordat ons huis deursoek is. Daar was geen manier om met Alam te praat nie, so ek kon nie uitvind of hy oukei was nie. Ek het vir Jehovah gesê hoe ek voel, dat ek al my bekommernisse aan hom oorgee, en ek het geweet dat hy baie mooi na Alam sou kyk.”

Swetlana het nooit getwyfel dat Jehovah met haar is nie. Sy sê: “Ek het gesien hoe hy my ondersteun. Ek het besef dat dit nie die tyd was om paniekerig te raak nie. . .  Ek het probeer om nie op myself te fokus nie. Ek het eerder probeer dink aan hoe ek lojaal aan Jehovah kan bly.”

Swetlana en Alam bly positief deur hard te werk om hulle geloof sterk te hou. “Ek en my man lees elke dag die dagteks en ’n hoofstuk uit die Bybel saam. Ons fokus altyd op die tekste wat ons aanmoedig om vertroosting in Jehovah te vind en om op hom te vertrou.” Die jaarteks vir 2019 in Jesaja 41:10 wat sê: “Moenie angstig wees nie, want ek is jou God”, herinner Swetlana en Alam aan Jehovah se liefde en verseker hulle daarvan. Sy sê: “Ons het besluit om die vers uit te druk en dit te laat raam.”

Swetlana se volharding het ’n positiewe uitwerking gehad op haar familielede wat nie Getuies is nie. Swetlana verduidelik: “Ek kon ’n goeie getuienis vir my ma gee, wat my in die verlede teëgestaan het. Nou respekteer sy wat ek glo en sê sy gereeld vir my dat sy jammer is oor wat met my gebeur en dat sy my ondersteun.” Swetlana voeg by: “My Ortodokse ouma, wat 91 jaar oud is, sê die heeltyd vir my hoe jammer sy is oor ons situasie en dat sy besorg is oor ons. Sy het nou begin om meer in die Bybel belang te stel.”

Ons hou aan om aan Swetlana en Alam te dink. Ons weet dat hulle positief sal bly terwyl Jehovah aanhou om “hulle hart [te] versterk”. – Psalm 10:17.