Spring na inhoud

21 FEBRUARIE 2019
RUSLAND

Jehovah se Getuies word gemartel in Soergoet, Rusland

Jehovah se Getuies word gemartel in Soergoet, Rusland

Net nege dae nadat Dennis Christensen onregverdig in ’n Russiese hof skuldig bevind is, is ten minste sewe Getuies van Jehovah fisies mishandel – hulle is elektries geskok, versmoor en geslaan – deur Russiese speurders in die Wes-Siberiese stad Soergoet. Terwyl hulle ons broers gemartel het, het hulle aangedring om te weet waar die vergaderinge gehou word en wat die name van ander Getuies is.

Dit het alles in die vroeë oggendure van 15 Februarie 2019 begin, toe die owerheid in Soergoet by Getuies se huise ingestorm het en dit deursoek het. Nadat party Getuies gearresteer is, is hulle na die kantore van die Ondersoekkomitee geneem. Daar het die owerheid ons broers begin ondervra, maar ons broers het geweier om inligting oor hulle mede-aanbidders te gee. Nadat die enigste regsverteenwoordiger geloop het, het die slagoffers gesê dat die volgende gebeur het: sakke is oor hulle kop gesit en met kleefband toegebind, hulle hande is agter hulle rug vasgemaak en hulle is geslaan. Nadat die Getuies kaal uitgetrek is en met water natgegooi is, is hulle met skoktoestelle geskok. Hierdie wrede marteling het twee ure lank aangehou.

Ten minste drie Getuies is nog in aanhouding. Dié wat vrygelaat is, het mediese behandeling gekry vir hulle beserings en klagtes gelê by agentskappe wat in beheer is.

Wat nog meer is, nadat die Russiese owerheid hierdie soektogte gedoen het, het hulle kriminele sake teen altesaam 19 Getuies gemaak. Hulle is daarvan aangekla dat hulle aan sogenaamde “ekstremistiese bedrywigheid deelgeneem het” en die bedrywighede van “’n ekstremistiese organisasie gereël” het.

So ’n verskriklike misbruik van gesag is strafbaar onder die Russiese Strafwetboek. En die Russiese Federasie is deel van verskeie internasionale organisasies wat mense teen marteling beskerm. Daarom sal ons as gevolg van hierdie misdaad gebruik maak van alle beskikbare regsmiddele, in Rusland en internasionaal.

Ons weet beslis dat Jehovah die vervolging van ons broers in Rusland raaksien en sal optree as hulle ‘hulp en die Een wat aan hulle ontkoming verskaf’. – Psalm 70:5.